Central SA
Familie woedend ná broer se dood buite kliniek─── 06:45 Sun, 07 May 2023
Die familie van ’n Bloemfonteinse man sê hulle is woedend oor die dood van hul geliefde buite 'n kliniek waar hulle om mediese hulp gaan aanklop het.
Jeremiah Moeca se familie sê hy is na bewering deur sekuriteit meegedeel dat die kliniek nie meer 'n 24-uur-fasiliteit is nie en dat hy op die sypaadjie buite die kliniek se hek oorlede is.
Kelebogile Moeca sê die Vrystaatse Departement van Gesondheid het geen berou oor haar broer se dood getoon nie.
Die SABC berig Moeca sê haar broer se voorval is nie 'n geïsoleerde saak nie.
"Dit is nie die eerste keer wat my broer soontoe gaan nie. Die eerste keer het hulle hom gehelp en hy het veilig teruggekeer huis toe. Hy was reg, maar hierdie keer lyk dit of daar 'n probleem was. Die sekuriteit het hom moontlik nie toegelaat nie want hulle sê dit is nie meer 'n 24-uur kliniek nie, maar ons as die gemeenskap weet dit egter nie.
"Sover ons weet, is dit 'n 24-uur kliniek. Die [wyks]raad sê dit is 'n 24-uur kliniek, so ons is verbaas om te hoor dat dit nie meer die geval nie. Niemand het vir ons kom sê dis nie meer 'n 24-uur kliniek nie. Eers toe ons as gesin daar aankom. Ek is diep seergemaak omdat niemand van die Batho-kliniek of die Departement van Gesondheid na ons as familie uitgereik het om te hoor hoe ons voel nie."
Intussen sê die Vrystaatse Departement van Gesondheid deeglike openbare konsultasies is gedoen voordat 'n besluit in Julie verlede jaar geneem is om die 24-uur werksaamhede by die Batho-kliniek te kanselleer.
Departementele woordvoerder, Mondli Mvambi, het bewerings dat Moeca mediese hulp geweier is, probeer weerlê.
"Hulle is nie die hulp geweier nie, want die kliniek was gesluit. Dit was omstreeks 3-uur die oggend. Die sekuriteit hier het wel die ambulansdienste gebel. Ons is meegedeel dat hulle nie 'n ambulans kon kry nie, maar oor wat gebeur het, moet volledige verslag gedoen word. Ongelukkig was die ambulans nie beskikbaar toe dit nodig was nie."
