Central SA
Polisie ontdek vervalste goedere regoor Bloemfontein─── HEIDRÈ MALGAS 12:54 Sun, 07 May 2023
Winkeleienaars in verskeie dele van Bloemfontein het boetes en skriftelike kennisgewings ontvang nadat die polisie onwettige en vervalste goedere in hulle winkels ontdek het.
Volgens polisiewoordvoerder Thabo Covane volg dit nadat ‘n gesamentlike operasie tussen die Suid-Afrikaanse Polisiediens en Departement van Kleinsakeontwikkeling, Toerisme en Omgewingsake (Destea) in Kopanong en Kagisanong gehou is om kwessies van onwettige goedere wat by plaaslike winkels verkoop word, aan te spreek.

Mnr. M. Phokoye, ondersoeker vir verbruikersbeskerming by Destea, met die vervalste sardyne.
“Die span het by Tafe Cash Store in Chris Hani aangekom en ’n inspeksie gedoen. Vervalste skoenpolitoer, sigarette en penne is gevind. Daar is ook op doeke, eiers en kaasskywe sonder vervaldatums beslag gelê.”
Hy voeg by dat hulle op toiletpapier beslag gelê het met misleidende inligting op die etikette. Die 33-jarige winkelbestuurder het 'n skriftelike kennisgewing ontvang om voor die hof te verskyn met 'n opsie om 'n boete te betaal.

Mnr. M. Ntjoboko met die vervalste sap van een van die winkels.
“By die volgende adres het die span tientalle eiers sonder ’n handelsmerk gevind, asook verbode anti-inflammatoriese room en produkte met twee ongeregistreerde voedselhandelsmerke – Bravo Foods se Sagte Sjokolade-/Lemmetjie-/Marmerkoeke en Galaxy Foods se glukosepoeier en Winzo-beskuitjies. ’n Man (41) is ingevolge die Wet op Vervalste Goedere (37/1997) 'n boete opgelê.”
Daar is ook op ili-mili gemmerkoekies, onbekende vleisprodukte, verbode skoonheidsroom, spaghetti en vrugtesap waarvan die vervaldatum verstryk het, vervalste blikkies sardyne en ongeregistreerde pynpille beslag gelê by die derde winkel. 'n Boete is aan die 35-jarige winkelbestuurder uitgereik.
Nog ’n winkeleienaar in Kopanong is vir vervalste drankbottels en Vodka beboet.
’n Centlec-beampte het ook perseel se onwettige kragaansluiting beëindig.
“In Bloemspruit is 'n boete ingevolge die Vrystaatse Dobbel- en Drankwet aan ’n 36-jarige man in Fase 7 uitgereik weens die handel in drank terwyl hy nie behoorlik geregistreer is nie. Daar is ook beslag gelê op 261 liter bier. ‘n Centlec-beampte het ook hier die onwettige kragaansluiting beëindig,” het Covane gesê.
OFM Nuus
