On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
Show Background
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

De Ruyter vergelyk Ramaphosa met joviale buiteklub-bestuurder

───   15:56 Mon, 15 May 2023

De Ruyter vergelyk Ramaphosa met joviale buiteklub-bestuurder | News Article

Die voormalige uitvoerende hoof van Eskom, André de Ruyter, se boek Truth to Power: My Three Years Inside Eskom, is nou beskikbaar. In die boek ontbloot hy wydverspreide korrupsie en onbevoegdheid by die kragverskaffer.

Die boek is sedert Sondag te koop, maar dit was ’n dig bewaarde geheim. Personeel by Exclusive Books het aan Daily Investor gesê hulle was onbewus van die boek se bekendstelling.

Die bokse met die boek het ook ’n ander naam op gehad om te verhoed dat iemand keer dat die boek bekendgestel word.

De Ruyter verduidelik in die boek dat hy kort ná sy aanstelling in Januarie 2020 by Eskom besef het hoekom dit as die moeilikste werk in Suid-Afrika beskou word.

Hy sê behalwe toerusting wat in ’n swak toestand was, verouderde kragstasies, vaardighede wat verlore gegaan het, het hy ontdek dat Eskom grootskaals deur korrupsie lamgelê word.

Hy noem gevalle waar bedrog en korrupsie groot skade aangerig het:

• Aflewerings van vals brandstofolie by net een kragstasie kos Eskom R100 miljoen per maand.

• Kniebeskermers teen R150 per paar is vir R80 000 gekoop.

• Miljarde rande se toerusting is weg wat vermoedelik in die maatskappy se stoorkamers gebêre was.

• ’n Senior polisieman van Mpumalanga het ingemeng om te verseker dat diegene wat betrokke was in steenkooldiefstalsake nie vervolg sal word nie.

De Ruyter het besef dat die polisie en verwante staatsveiligheidsagentskappe hom nie sou help nie. Skielik was hy deel van die wêreld van spioene, veilige huise, koeëlvaste baadjies en lyfwagte.

Hy vertel van die begin van ’n private ondersoek wat minstens vier misdadige kartelle ontbloot het.

In sy stryd om korrupsie te beveg het hy politieke inmenging, niebetalende munisipaliteite, ongegronde beskuldigings van rassisme, wilde stakings, en sabotasie ondervind. Iemand het selfs probeer om hom te vergiftig.

Hy werp lig op wat binne die raadsale en regeringsvergaderings gebeur het waar Suid-Afrika se toekoms gevorm word, met ministers wat dikwels dwarsgetrek het.

De Ruyter sê hy het sy bekommernisse met Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, bespreek. Gordhan het toesig gehou oor Eskom.

Gordhan het aan De Ruyter gesê hulle moet meer inligting inwin, wat hom aangespoor het om met ’n private ondersoek te begin.

Weens uitdagings wat verband hou met die finansiering van so 'n ondersoek deur staatsgeld, het hy die private sektor genader.

Hy het George Fivaz Forensic and Risk (GFFR) in diens geneem om die ondersoek van 18 maande teen sowat R50 miljoen te doen. Die twee hooggeplaaste politici wie se name in die ondersoek uitgekom het, word nie in die boek genoem nie.

In mediaberigte is daar egter genoem dat dit die voormalige adjunkpresident David Mabuza en Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, is.

De Ruyter het ook onthul dat hy gewaarsku is oor ’n komplot om Eskom in Januarie te destabiliseer, wat die land in fase 6-beurtkrag sou dompel.

Die plan, waarby talle Eskom-werknemers betrokke was, was om beurtkrag te vererger sodat dit President Cyril Ramaphosa in ’n slegte lig sou stel.

Die verhoogde beurtkrag sal ook gebruik word sodat De Ruyter as Eskom se uitvoerende hoof verwyder kan word.

Ramaphosa het volgens hom ’n swak leierskapstyl en is hy nie geskik om Suid-Afrika te lei nie.

City Press berig dat De Ruyter in sy boek erken dat die president meestal goeie bedoelings het, maar hy is meer soos die joviale buiteklub-bestuurder.

"Jy kan veerpyltjies speel, ek kan gholf speel, iemand anders kan tennis speel – en solank almal gelukkig is en dieselfde groen, swart en geel T-hemp dra, is die president ook gelukkig."

De Ruyter verduidelik dat hernubare energie die goedkoopste en vinnigste oplossing vir Suid-Afrika se kragkrisis is. Daar is hewige teenkanting teen hernubare energie van baie hooggeplaaste regeringsamptenare weens gevestigde steenkoolbelange.

“Ek het nie beurtkrag opgelos nie. Ek het ook nie al die korrupsie uitgewys nie. Maar ek het ’n goeie begin gemaak met die oplossing van energiesekerheid,” sê hy.

OFM Nuus





@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.