On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Skoolmeisie sterf ná opspraakwekkende Bloem-konsert

───   10:20 Tue, 23 May 2023

Skoolmeisie sterf ná opspraakwekkende Bloem-konsert | News Article
Annerien Mills

'n Leerling van die Afrikaans Hoër Meisieskool in Pretoria, Annerien Mills (17), is Saterdag in haar slaap dood nadat sy saam met die skool se jeugsimfonieorkes van 'n opspraakwekkende konsert in Bloemfontein teruggekeer het.

Volgens ’n Pretoriase gemeenskapskoerant het Annerien ná die busrit tuis aan die slaap geraak. Haar tweelingbroer, Henré, kon haar later nie wakker kry nie. Die gesin het bevestig dat sy weens 'n hartkwaal, wat veroorsaak het dat haar hart uit ritme gaan en ophou klop, dood is.

Annerien was 'n fluitspeler in die orkes wat verlede week 'n optrede by die Hoër Meisieskool Oranje gehou het. Die orkes het die gehoor na hul asem laat snak toe hulle onverstoord in die pikdonker voortgespeel het toe beurtkrag dié aand om 20:00 'n stok in die wiel probeer steek het.

Basta met beurtkrag! 

Almal in die gehoor het hul selfoon se liggie aangeskakel sodat die orkes Ennio Morricone se treffende “Gabriel’s Oboe” uit die rolprent The Mission kon voltooi. Die skool se kragopwekker het ná die luide applous aangeskakel.

'n Video van die konsert het ná die tyd opslae op sosiale media gemaak. “Sowaar! Eskom gee hoendervel” het 'n inskrywing op Facebook gelui.

“Sy was 'n Affie in murg en been. Het Donderdag nog met groot opgewondenheid saam na Bloemfontein gereis. Trots geklee in haar blou Affie-hoodie,” sê Marna Jordaan, hoof van Afrikaans Hoër Meisieskool in Pretoria, op die skool se Facebook-bladsy.


“Die Covid-pandemie het in 2020 tydens haar gr. 8-jaar toegeslaan. Die groep kinders is 'beroof' van soveel geleenthede by die skool waarna hulle vir jare uitgesien het. Die geleentheid om dus uiteindelik as skool na Bloemfontein te reis, was des te meer 'n onvergeetlike uitstappie.

“Sy was deel van die Affie-orkes wat soveel harte aangeraak het toe hulle ten spyte van beurtkrag in die pikdonker aanhou speel het. 'n Roerende oomblik in tyd wat diegene teenwoordig diep geraak het.

“Hoe dankbaar is ek nou vir Kode Blou, die gr. 11-veldskool en die orkes wat Woensdag as beste in die stad aangewys is. Dat Annerien dit alles kon meemaak. Die wete dat sy 'n " gelukkige" Affie was bied troos. Mag die groot Trooster deur Sy genade ons deur hierdie tyd versterk. Ons is hartseer.”

Volgens haar pa, John, het sy die middag ’n bietjie gaan lê. Haar tweelingbroer, Henré, wou haar gaan wakker maak, maar kon haar nie wakker kry nie. “Sy was die oggend nog reg. Haar hart het uit ritme gegaan en gaan staan.

“Sy is in vrede weg, dit is baie erg, maar ons aanvaar dit.”

Sy word oorleef deur haar ouers, John en Anneke, en haar broers, Joubert en Henré.

Die skool hou vandag (23/5) 'n dankdiens vir Annerien.

OFM Nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.