Central SA
Jim Fouché-leerder bring wiskunde-eer vir Vrystaat─── KEKELETSO MOSEBETSI 14:18 Tue, 23 May 2023
Hoërskool Jim Fouché in Bloemfontein is met reg trots op een van sy leerders, Jana Rossouw, wat onlangs ’n groot wiskunde-prestasie behaal het.
Dié gr. 11-leerder was die enigste Vrystater in 'n span van ses wat op meriete gekies is om Suid-Afrika in die Pan-Afrika wiskunde-olimpiade wat onlangs in Rwanda gehou is, te verteenwoordig.

Jana Rossouw
Sy is ook een van die enkele leerders wat die geleentheid gehad het om deur universiteitsvlak- wiskundiges opgelei te word, asook deur lede van die Suid-Afrikaanse Wiskundestigting, wat die Suid-Afrikaanse olimpiade borg.
Haar wiskunde-onderwyseres, Janeke Koekemoer, sê Jana se prestasie het haar sommer emosioneel gemaak, veral ná al die ure se opleiding wat sy ondergaan het.
Hoërskool Jim Fouché se leerders het boonop die eerste, tweede en derde plekke in die provinsiale olimpiade behaal.
“As onderwyser is dit fantasties dat 'n leerling só ’n prestasie behaal, ek was baie, baie bly vir haar. Ek het begin huil toe ek dit sien. Dit is nie altyd dat iemand van die Vrystaat so ’n prestasie behaal nie, so vir die Vrystaat en onderwys in die Vrystaat is dit baie, baie goed,” sê sy.

Jana Rossouw
Koekemoer sê mense wat na Jana as 'n “genie” verwys, nie besef hoeveel ure se harde werk sy ingesit het om uit te blink in wiskunde nie.
"Tydens die Desembervakansie het sy 'n week se opleiding gehad en in Januarie voor die skool begin het, het sy weer 'n week se opleiding gehad. Dit is twee weke wat sy nie vakansie gehad het nie, terwyl al die ander kinders rondgespeel het."
Koekemoer sê die wiskunde wat Jana doen, is van 'n hoë standaard. Sy self is verbaas oor vergelykings wat maklik deur haar opgelos word. “Sommige van die vrae kan tot drie ure neem om te voltooi.”
