Central SA
Rowers met aanvalsgewere skiet op VF Plus-lede─── HEIDRÈ MALGAS 15:45 Tue, 30 May 2023
Rowers in Meyerton in die Vaaldriehoek het Maandag op ‘n winkeleienaar en klante begin skiet toe hulle ’n juwelierswarewinkel wou beroof.
Die VF Plus-lede Pierre Wheeler en Kobus Hoffman was die helde van die dag toe hulle op die rowers begin skiet het.
Wheeler sê hy en Hoffman het in die party se kantoor gewerk wat langs die juwelierswinkel is.
“Net toe ons by die deur kom, het ons die winkeleienaar gesien. Daar was bloed op sy gesig en hy het geskree dat sy winkel beroof word en dat hulle op hom en sy klante skiet,” sê Wheeler.
Hulle het gaan ondersoek instel en toe Hoffman om die muur kyk het die rowers met AK-47s en ander vuurwapens op hulle geskiet.
Hoffman en Wheeler het albei hul 9 mm-pistole by hulle gehad en terug begin skiet.
“Ek het gesien hoe die beton langs Kobus se gesig ontplof toe hulle op hom geskiet het. Hy het teruggeval en ek het vir die winkeleienaar gesê om agter ons te skuil. Daarna het ek op hul wit Mercedes-Benz geskiet om hulle weg te kry van die publiek,” sê hy.
Hy sê die rowers het aanhou skiet op hulle terwyl hulle weggejaag het. Niemand is beseer nie.
“Ek was tydens die skietery nie bang nie, maar ek het groot geskrik toe ek sien die skoot klap by Kobus se kop, en dit was soos die Engelse sal sê, ‘things got real’, jy skrik jouself in ‘n ander bloedgroep in en niks kan jou voorberei vir so 'n oomblik nie,” sê hy.
Die rowers is steeds op vrye voet.
