On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

Tweede kans ná grusame ongeluk aangegryp

───   HEIDRÈ MALGAS 10:39 Tue, 06 Jun 2023

Tweede kans ná grusame ongeluk aangegryp | News Article
Edwin Nelson glo die Here het hom ’n tweede kans gegee daardie dag. FOTO: Verskaf

Edwin Nelson glo God het hom ’n tweede kans op die lewe gegee nadat hy albei sy bene in ’n grusame ongeluk verloor het.

Nelson vertel hy was op pad vanaf Potchefstroom na Vaalpark, waar hy die Potchefstroom Gimnasium ondersteun het in die Gimmie en Volkie Classic Clash. Hy het beheer oor sy kar verloor om ’n draai, en toe hy terug op die pad kom, het die padversperrings deur sy kar gesny.

“Toe ek tot stilstand kom, het ek dadelik agtergekom dat ek op slag my voete verloor het. Ek was in skok en het nie geweet wat om te doen nie. Ek het so rustig en wakker as moontlik probeer bly,” sê Nelson.

Hy weet hy het nog ’n moeilike pad voor hom, maar gelukkig het hy goeie mense wat hom ondersteun. Hy weet hy sal alles kan doen wat hy voorheen gedoen het, want hy is bevoorreg om nog altwee sy knieë te hê, en met die regte prostese sal hy normaal kan leef.

Edwin Nelson FOTO: Verskaf

“Die ondersteuning was mal gewees. Daar was nie ’n sekonde wat daar nie iemand in die hospitaal by my was nie. Dit was seker net toe ek my oë toemaak om te slaap dat ek nie vriende of familie voor my gesien nie. So die ondersteuning was groot, en nie net van Potchefstroom self nie, maar landwyd,” vertel hy.

Die ongeluk het sy uitkyk oor die lewe verander, en Nelson glo die Here het hom ’n tweede kans gegee daardie dag. Hy glo sy ontbering is met ’n doel, wat dalk kan lei tot hulp en motivering vir ander mense.

Nelson sê hy is bevoorreg om nog altwee sy knieë te hê, en met die regte prostese sal hy normaal kan leef. FOTO: Verskaf

“My fisiese doelwitte is maklik. Ek wil oor ’n paar maande weer normaal kan loop en aangaan met my lewe, om te kan draf en hardloop,” sê hy. Nelson was op skool ’n hokkiespeler en hy wil graag eendag terugkeer na die sport.

Hy glo ook die ongeluk kon baie erger gewees het en dat daar dus ’n doel is aan sy oorlewing – al voel dit nie aldag so nie.

“ ’n Mens het wel jou negatiewe dae waar jy wil opgee, maar dan moet jy net positief bly en weet dat jy nog ’n doel op aarde het,” glo hy.

Daar is reeds ’n fonds gestig vir Nelson en verdere inligting kan op die Facebook-blad “Rise with Edwin” gevind word.

OFM Nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.