Central SA
Uitspraak in Nama-Khoi-bedrogsaak van R80 miljoen eindelik verwag─── 21:11 Sun, 11 Jun 2023
Nevie Aubrey Baartman, gewese munisipale bestuurder van die Nama-Khoi-munisipaliteit op Springbok, en ’n medebeskuldigde, Zihaadt (Hangkas) Cloete, verskyn weer op Maandag (12/6) in die Springbokse handelshof vir ’n langverwagte uitspraak.
Die twee staan tereg op aanklagte van tenderkorrupsie van amper R80 miljoen, sê Nonthandazo Mnisi, Valke-woordvoerder. Die staat voer aan Baartman het na bewering sy invloed en amp as munisipale bestuurder gebruik toe ’n tender in 2013 aan Zihaadt se maatskappy, MPG Construction, toegeken is.

Nevie Aubrey Baartman. Foto verskaf
Die staat beweer voorts Baartman, gewese Noord-Kaapse EFF-leier, en Zihaadt het ’n hegte vriendskapsverhouding gehad voor en ná die toekenning van die tender. Na bewering is die regte verkrygingsprosedures nie gevolg nie weens Baartman se manipulering daarvan.
Maralise Lunnette Cloete (39), Cloete se eksvrou en ook ’n direkteur van MPG Construction, is aanvanklik ook weens bedrog aangekla, maar sy is intussen vrygespreek omdat die hof haar nie daarmee kon verbind nie.
OFM Nuus / Isaac Cloete
