On Now
Weekends 09:00 - 12:00
Classic Sundays Tony
NEXT: 12:00 - 16:00 Classic Sundays with Christie
Listen Live Streams

Central SA

Ondersoek ook ander sake teen Baartman – AfriForum

───   14:55 Wed, 14 Jun 2023

Ondersoek ook ander sake teen Baartman – AfriForum | News Article
Nevie Aubrey Baartman is ’n gewese Noord-Kaapse leier van die EFF. Foto: Facebook

Nevie Aubrey Baartman, gewese munisipale bestuurder van Nama-Khoi, is skuldig bevind aan die pleging van ’n misdryf ingevolge die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur, maar AfriForum vra ander sake teen hom moet ook ondersoek word.

AfriForum se Springbok-tak, wat al by verskeie munisipale hofsake en aangeleenthede betrokke was, het ’n sleutelrol gespeel in Baartman se vervolging en uiteindelike skuldigbevinding in die Springbokse landdroshof. Een van die sake wat opgeduik het, was dié van 2013 oor potensiële ongerymdhede met tenders wat deur Baartman gepleeg is. 

Nevie Aubrey Baartman. Foto verskaf

AfriForum sê dié tak het die relevante inligting oor die beweerde bedrog aan ’n forensiese ondersoekbeampte oorhandig, wat die tak gehelp het om ’n forensiese klag by die Valke aanhangig te maak. Die Valke het die klagte oorweeg en kort daarna besluit om Baartman en ander partye krimineel te vervolg.

“Ons is verheug oor hierdie uitspraak en ons hoop dat Baartman ook uiteindelik aanspreeklik gehou sal word vir sy ander onwettige aktiwiteite,” sê Sarel Stone, voorsitter van AfriForum se Springbok-tak. 

Hy beskryf dit as “’n groot oorwinning vir die Springbok-tak, wat al jare lank met hierdie saak stoei”. Hulle is bly dat geregtigheid uiteindelik geskied het.” 

Die dorp Springbok is die setel van die Nama-Khoi-munisipaliteit. Foto: Wikipedia

Stone sê aangesien dit slegs een van die sake is waarin Baartman geïmpliseer word, sal AfriForum aanhou om druk toe te pas sodat die ander sake ook ondersoek kan word en moontlik lei tot verdere vervolging. 

“Die ouditeur generaal maak dit jaar ná jaar duidelik dat die misbruik van voorsieningskettingsbeheer ’n wesenlike impak op dienslewering van munisipaliteite het,” sê Morné Mostert, bestuurder van plaaslikeregeringsake by AfriForum. 

Hierdie “kernprobleem” moenie net krimineel ondersoek word nie, maar ook aandag kry op voetsoolvlak in plaaslike owerhede, “anders sal munisipaliteite net verder en verder agteruitgaan.

“Ons sien dat die lewering van dienste soos water, riool, en vullisverwydering ook ’n probleem in munisipaliteite is en dit beklemtoon verder die wanbestuur by hierdie munisipaliteite.”

OFM Nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.