Central SA
Nog ’n liggaam in Heidedal se steengroef gevind─── HEIDRÈ MALGAS 16:48 Thu, 15 Jun 2023
Nog ’n jongman is twee dae nadat hy as vermis aangemeld is, drywend in die steengroef in Heidedal gevind.
Dustin Kukari is Sondagoggend kerk toe in 'n somber bui. Sy suster en lede van die kerk het opgemerk dat Dustin nie homself was nie.
Die broer van die oorledene, Jayden Kukari, sê sy broer het nie teruggekeer huis toe van die kerk af nie. Hulle het niks daarvan gemaak nie, omdat hy gewoonlik sy tannie op Sondae besoek.
"Dustin is nie iemand wat uitslaap nie en ook nie iemand wat van die huis af sal loop sonder om te sê waarheen hy gaan nie," sê Kukari.
Hy voeg by dat toe hy Maandagoggend wakker word en besef sy broer is nog nie by die huis nie, het hy 'n boodskap op Facebook geplaas en gesê dat hy nie langer as 48 uur gaan wag om sy broer as vermis aan te meld nie.
"My ma het toe Heidedal-polisiestasie toe gegaan en hulle het vir haar gesê om by die hospitale te gaan kyk, maar hy was nie daar nie. Sy is toe terug na die polisiestasie en het hom as vermis aangemeld, maar die polisie het nie moeite gedoen om te soek nie," vertel Kukari.
Hy sê Dustin was 'n psigiatriese pasiënt, maar hy was altyd by sy volle verstand wanneer hy sy pilletjies geneem het. Vanaf 5 Junie het hy egter opgehou om sy pilletjies te neem wat ’n invloed op sy optrede gehad het, hy was nie by sy volle verstand nie.
"My broer was 'n baie vriendelike persoon. Hy was 'n dienaar van God, hy was toegewyd aan die kerk en was altyd behulpsaam in die kerk. Hy het gelewe vir die kerk," sê hy.
Hy sê die gemeenskap was baie lief vir Dustin omdat hy so vriendelik was.
Gemeenskapsaktivis, Gregory Werner, het 'n brief gestuur na die Menseregtekommissie oor die aanhouende verdrinkings in die steengroef en die gevaar wat die gemeenskap loop as gevolg van die situasie.
Volgens polisiewoordvoerder, Thabo Covane, is 'n doodsondersoek geopen by die Heidedal-polisiestasie.
Sy liggaam is Dinsdag uit die steengroef naby Sonneblomstraat in Heidedal, Bloemfontein, gehaal.
Twee mans wat in die veld verby die steengroef gestap het, het die liggaam in die water sien dryf. Hulle het die liggaam by die polisiestasie aangemeld en die polisie het na die toneel gekom en die liggaam uit die water gehaal."
Hy het bygevoeg dat die oorledene geïdentifiseer is as die 26-jarige man van Hillcreststraat in Ashbury, wat op Maandag 12 Junie 2023 deur sy familie as vermis aangemeld is.
Geen gemene spel word vermoed nie. Die ondersoek na die voorval duur voort.
