On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Sama, staatsamptenare bekommerd oor NGV

───   14:26 Mon, 26 Jun 2023

Sama, staatsamptenare bekommerd oor NGV  | News Article
Die Universitas Akademiese Hospitaal in Bloemfontein.

Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging glo die regering moet bewys dat dit met openbare finansies vertrou kan word voordat die Nasionale Gesondheidsversekering in werking gestel word.

Die Nasionale Vergadering het vroeër die maand die omstrede NGV-wetsontwerp goedgekeur – ’n stap nader om dit as wet te bekragtig.

Die wetsontwerp is in 2019 aan die parlement voorgelê en streef na universele gesondheidsdekking vir alle Suid-Afrikaners.

Die langverwagte instelling van die NGV word deur verskeie organisasies teengestaan te midde van waarskuwings dat dit tot 'n algehele ineenstorting van die land se gesondheidstelsel kan lei.

Die regering het die eise ten sterkste ontken en die Minister van Gesondheid, Joe Phaahla, sê hy glo dit sal die grondslag lê vir beter toegang tot gesondheidsorg vir almal.

“Een van ons grootste bekommernisse oor die inwerkingstellig van die NGV is die gebrek aan vertroue tussen die regering en sy burgers. Dit is weens korrupsie in gesondheidsorg wat aan die orde van die dag is,” sê die voorsitter van Sama, Mvuyisi Mzukwa.

"Daarom moet die regering burgers verseker dat daar 'n waghond sal wees om teen hierdie kanker van korrupsie te waak."

Intussen het die Vereniging van Staatsamptenare ook gewaarsku dat die land nie gereed is om die NGV toe te pas nie.

“Die vereniging ondersteun enige poging om universele toegang tot gesondheidsorg te verseker en erken dat toegang tot gesondheidsorg 'n fundamentele mensereg is wat in die Suid-Afrikaanse Grondwet verskans is. Dit is egter belangrik om te beklemtoon dat dit betekenisvolle toegang tot gehaltediens, voldoende mediese voorrade, skoon en ten volle toegeruste fasiliteite en voldoende personeel met ondervinding en kundigheid moet wees. Sonder hierdie fundamentele aspekte is die NGV gedoem om 'n mislukking te wees,” sê die vereniging se woordvoerder, Reuben Maleka.

Die vereniging het ook die regering versoek om besluite te neem terwyl die staat se beperkte hulpbronne in ag geneem word.

OFM Nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.