Central SA
Gemeenskap rou oor dood van talentvolle leerder─── HEIDRÈ MALGAS 16:17 Mon, 10 Jul 2023

“Mia was ‘n pragtige en talentvolle kind, wat in haar kort tyd op aarde 'n groot impak gehad het op diegene wat die voorreg gehad het om haar te ken.”
Volgens die woordvoerder vir die Kühn-familie, Jacques Broodryk, is dit 'n tragiese verhaal wat hul harte raak en hulle geestesgesondheid beïnvloed.
OFM Nuus het vroeër berig dat ’n veiligheidswag by die Hoërskool Garsfontein in Pretoria Dinsdag omstreeks 08:00 die gr. 10-leerling se liggaam op die skool se rugbyveld ontdek het.
LEES OOK: Polisie kry beeldmateriaal ná Mia Kühn se dood
Die polisie het kringtelevisie-beeldmateriaal op die perseel van die Hoërskool Garsfontein bekom as deel van die ondersoek na die dood van Mia Kühn, sê die Gautengse polisiewoordvoerder, Dimakatso Nevhuhulwi.
Broodryk sê dat daar geen aanduiding is dat iemand anders teenwoordig was gedurende die tragiese gebeure nie. Dit maak die tragedie nog meer hartverskeurend en isolerend, met Mia alleen in haar finale oomblikke.
Volgens 'n verklaring wat deur die familie van Mia uitgereik is, dui 'n voorlopige ondersoek daarop dat sy waarskynlik haar doodgeval het. Sy het waarskynlik geval terwyl sy 'n toring uitgeklim het waarop die rugbyveld se spreiligte gemonteer is. Die familie wil graag 'n einde bring aan gerugte dat ’n misdaad by haar dood betrokke was.
Volgens Beeld was Mia avontuurlustig en dit is nie vreemd vir haar familie dat sy sou probeer het om ’n spreilig se toring uit te klim nie. Sy het volgens Netwerk24 op ’n helder volmaannag ’n kospakkie gemaak, uit die huis geglip en by die paal van ’n spreilig op haar skool se rugbyveld opgeklim, waar sy waarskynlik haar doodgeval het.
“Duisende mense het hul hartseer en ondersteuning aan die familie getoon op sosiale media,” sê Broodryk.
Hy sê dat die familie in hierdie moeilike tyd in privaatheid hul dogter se dood wil verwerk.
Ondanks hul hartseer en verlies, het die familie hul dank en waardering uitgespreek vir die ondersteuning wat hulle van die gemeenskap ontvang het.
Vriende en familie van Mia het blomme voor die skool neergelê, 'n mooi gebaar van liefde en herinnering aan 'n jong lewe wat tragies geëindig het.