Central SA
Mandeladag: 18 711 maaltye vir Vaal-gemeenskap ingesamel─── HEIDRÈ MALGAS 16:19 Wed, 19 Jul 2023
Die 'Share More Meals Made With Love'-veldtog was baie suksesvol op Mandeladag met kos vir 18 711 maaltye wat deur die Vaal-gemeenskap verpak is.
Die veldtog is daarop gemik om voedselsekerheid te verbeter, veral gedurende moeilike ekonomiese tye, deur stapelvoedsel teen afslagpryse aan te bied en kos in te samel vir diegene wat dit nie kan bekostig nie.
"Die krag van vennootskappe word bewys deur die ongelooflike vrygewigheid en ondersteuning van al ons handelsvennote en die Vaal-gemeenskap," sê Carla de Villiers-Malan, bemarkingsbestuurder by Vaal Mall.
“Deur gesamentlike inisiatiewe het ons die vermoë om saam te werk en 'n positiewe invloed op die lewe van ons mede-inwoners te maak,” sê De Villiers.
“Die ware invloed van die 'Share More Meals Made With Love' kan gemeet word aan die aantal items wat ingesamel is en die verskil wat hulle gaan maak aan diegene in nood. Deur kositems te voorsien, het die inisiatief verseker dat individue en hul gesinne toegang het tot voedsame maaltye in hierdie uitdagende tye,” sê Sibongile Mooko, Premier se bemarkingshoof.
Die nie-bederfbare kositems is op 18 Julie verpak om aan die gemeenskappe naby die winkelsentrum versprei te word.
Die inisiatief is 'n vennootskap tussen Premier, Goldkeys International, FoodForward SA, en Vaal Mall. In die komende weke sal die kos versprei word aan elf plaaslike organisasies in die Vaal-gebied.
