On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Clarens se grotman bring weer sy kunswerke Vrystaat toe

───   ELSABÉ DE JAGER 12:48 Mon, 24 Jul 2023

Clarens se grotman bring weer sy kunswerke Vrystaat toe | News Article

“Welkom in my woonkamer. My bad is ’n dammetjie met helderskoon water wat uit ’n fontein voor die grot gevoed word.”

Rondom 1980 het dié kluisenaar-kunstenaar aan die woord in ’n grot bokant Clarens kom skilder en rus soek vir sy siel.

Ná 14 jaar was Martin Wessels se stilte en afsondering egter aan’t taan toe die munisipaliteit van dié Oos-Vrystaatse droomdorp sy pond vleis begin eis. Wessels moes maandeliks R1000 vir erfbelasting begin opdok, en dit het hom “die hoenders in gemaak”.


Hy het sy grot Ouwerf in 1979 by die beeldhouer Alphonse Smuts gekoop. Hy sê die geskiedenis het homself maar net herhaal, want Smuts het ook haaks geraak met die munisipaliteit.

Wessels, wat vroeër jare by Sukovs en ook oorsee dekorskilder en verhoogbestuurder was, vertel dat kerkdienste voor 1920 in die grot gehou is. Die klanke van rock-konserte asook klassieke musiek het egter ná 1980 die grot begin vul. Hy onthou optredes van Johannes Kerkorrel en Jennifer Ferguson.

Skildery van Martin Wessels.  Foto verskaf

In 2001 besluit hy om weg te trek van Clarens af en stel sy visier op ’n Karooplasie wat hom ver van enige munisipaliteit sou neem. Hy trek in 2001 na Schrikkerivier in die Kougadistrik. Daar bly die Baron van Kouga sedertdien, soos wat hy alom bekendstaan, in ’n klei-en takgrashuisie, waar hy slaap op ’n katel onder ’n beesvel, bad in die rivier en skilder en lees.

Dit is dan ook waar die Steyns, daardie jare predikantspaar op Joubertina, met Wessels kennis gemaak het. Barnard en Esté Steyn het intussen na Bloemfontein verhuis, maar bly steeds beste vriende met hom.

Martin in sy jonger dae. Foto verskaf

Vir Wessels is die Kouga ’n plek waar silwer rivierwater loop. Geelhoutbome gooi lang skaduwees en daar is volop vars lug. Kouga bring vir hom lewe. Ten spyte van die ongelooflike afsondering, lééf hy daar. En hy leef soos wat hy dit verkies, eenvoudig en lig. Die groen en blou kleure van die omgewing stimuleer sy verbeelding. Baie van sy werke is geïnspireer deur Carl Jung se “Memories, Dreams, Reflections”.

Wessels word beskou as ’n na-oorlogse kontemporêre skilder, een van die grootste kunstenaars wat die Vrystaat nóg opgelewer het.

Martin saam met sy kuns.  Foto verskaf

Op 29 Julie bring hy sy skilderye terug na die Vrystaat vir sy uitstalling by die Co-Op kunsgallery in Bloemfontein. Dit sal die eerste keer in baie jare wees dat dié legendariese en visionêre kunstenaar ’n retrospektiewe versameling van sy olieverfskilderye uitstal.

’n Kleimasker word in die kaggelvuur gebak.  Foto verskaf

Die 74-jarige Wessels, wat in die sestigerjare saam met kunstenaars soos Hardy Botha op kunsskool in die Rosestad was, kuier tans by die Steyns waar hy voorberei vir sy uitstalling wat Saterdag open.

OFM Nuus/Elsabé de Jager

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.