Central SA
Waterlekkasie-krisis in Kimberley vererger─── TSHEHLA KOTELI 10:53 Wed, 26 Jul 2023
Daar word beweer dat die Sol Plaatje Plaaslike Munisipaliteit in Kimberley 13 groot waterlekkasies het, wat die rede kan wees vir die onlangse herinstelling van waterafsluitings deur die nag.
Die DA in die Noord-Kaap het dié groot lekkasies ontdek. Ockert Fourie van die DA sê ’n toesighoudende inspeksie is deur hom, Chris Whittaker, George Joseph en Christopher Phiri gedoen wat tot hierdie ontdekking gelei het. “Ons het 13 groot lekkasies van varswater ontdek. Ons kon sekere gebiede nie inspekteer nie weens moerasagtige toestande en die oorgroei van riete. “Dit is bykomend tot die honderde klein tot middelslag-lekkasies van drinkwater in die stad.”
Die waterlekkasies veroorsaak groot skade by die Hoërskool Noord-Kaap. Foto: Verskaf
LEES OOK: Sol Plaatje residents warned of water interruptions
Een van die lekkasies is van ’n pypleiding by die Newton-reservoir self. “Dit oorstroom al 13 jaar sportgeriewe by die Hoërskool Noord-Kaap en veroorsaak skade aan die skool se swembad, netbalbane, veld en skoolstruktuur.
“Nog ’n lekkasie is buite die Riverton-pompstasie by die watersuiweringsaanleg. ’n Waterpomp en sandsakke word gebruik om oorstromings na die pomphuis te probeer voorkom.”
Die 13 groot waterlekkasies wat hulle blootgelê het, is in skrille kontras met ’n verslag wat verlede week deur Sol Plaatje verskaf is waarin hulle verwys na slegs twee groot waterlekkasies. Óf die munisipaliteit draai doelbewus sy rug op die kritieke toestand van die stad se waterinfrastruktuur, óf hulle kan nie lekkasies moniteer nie, sê Fourie.
LEES OOK – POSTPONED: Planned water interruption for Sol Plaatje
Elf van die lekkasies vereis ’n volledige waterafsluiting om die stukkende pype te herstel. Die munisipaliteit het vanjaar die geskeduleerde afsluiting reeds twee keer uitgestel weens swak beplanning sowel as ’n gebrek aan kommunikasie.
Inwoners ly onder die gevolge van die uitgestelde herstelwerk omdat water nou snags afgesluit word.
Woordrvoerder vir die Sol Plaatje-munisipaliteit, Thoko Riet, het gesê die munisipaliteit is bewus van groot lekkasies op die grootmaatwaterinfrastruktuur.
“Sommige van hierdie lekkasies was deel van die werk wat gedoen moes word tydens die Mei 2023 beplande wateronderbreking, wat nie voortgegaan het nie,” sê sy.
Sy sê ook dat die munisipaliteit beplan 'n wateronderbreking om al hierdie lekkasies aan te spreek. Herstelwerk verg gedetailleerde beplanning, omvangryke kommunikasie en belanghebbende-betrokkenheid.
“Dit sal plaasvind sodra die werklike datum vir die wateronderbreking vasgestel is,” sê sy.
Sy sê ook dat totdat die waterinfrastruktuur opgradering en opknapprogram deur die BFI afgehandel is, moet periodieke wateronderbrekings soos hierdie verwag word.
“Dit sal egter verskil in intensiteit soos die program vorder. Sol Plaatje-inwoners word aangemoedig om geduldig en samewerkend te wees gedurende hierdie restaurasieperiode,” sê Riet.
