Central SA
Operasie Shanela suksesvol in Noordwes─── TSHEHLA KOTELI 11:45 Tue, 01 Aug 2023
Die SAPD se nuwe nasionale veldtog, Operasie Shanela, het reeds daartoe gelei dat honderde mense in die Noordwes in hegtenis geneem is weens verskeie misdaadgevalle.
Aafje Botma, polisiewoordvoerder, sê dit lyk of dié operasie misdaad in die provinsie stabiliseer. Meer as 100 mense is in hegtenis geneem vir aanranding met die doel om ernstig te beseer, 54 vir gewone aanranding, 43 vir dwelmhandel, 40 vir dronkbestuur, 38 vir die besit van dwelms, 23 vir onwettige handel in drank en 20 vir inbrake.
Operasie Shanela het van 27 tot 30 Julie plaasgevind en 779 verdagtes is in hegtenis geneem. “In dié tydperk is 6 413 mense en 2 906 voertuie deursoek,” sê Botma. Daar is ook inspeksie gedoen by 77 gelisensieerde drankpersele, 23 tweedehandse winkels en drie skrootwerwe. Altesaam 23 ongelisensieerde drankpersele is gesluit, terwyl 57 vermeende onwettige buitelanders deur immigrasiebeamptes ondersoek word.
OFM Nuus het vroeër berig die provinsie het 32% te min polisielede. In ’n skriftelike antwoord sê die minister van polisie, Bheki Cele, daar is landwyd ook ’n tekort aan speurders.
Okkie Terblanche van die DA sê dit is skokkend omdat die land in die greep van ’n gewelddadige oorlog teen misdaad is. Hy sê misdaadstatistieke is op rekordvlakke maar steeds dink die minister nie dit is belangrik om poste soos speurders te verdubbel nie. “Die SAPD het meer as twee speurders per dag verloor vergeleke met die vorige boekjaar.”
OFM Nuus
