Central SA
Predikant onthou die sonskynkind uit Bethlehem─── ELSABÉ DE JAGER 10:50 Thu, 03 Aug 2023
Wanneer ’n mens ouers ná die afsterwe van ’n kind moet troos, is dit nie slegs menslike troos nie, maar veral troos uit die Woord wat aan hulle gebied moet word.
Klein Liza Engelbrecht se tyd hier op aarde was, soos wat Job 5:25 dit beskryf, vol gewees, al was sy maar net ses jaar oud, sê ds. Abri Pelser, predikant van die Gereformeerde Kerk Bethlehem. Hy beskryf die jong dooplidmaat van sy gemeente as ’n sonskynkind wat selde gestap het, maar amper altyd gehuppel het.
Vir hom as leraar is dit een van die moeilikste take om ouers by die dood van ’n kind te troos. Tog beskou hy dit as ’n genadevoorreg om kinders van die Here te begelei deur so ’n proses van rou smart.

Ma Janet, Liza en haar sussie Elyna. Foto: Facebook
Liza is Saterdag in die Netcare Unitas-hospitaal in Centurion oorlede. ’n Deel van haar dikderm wat tydens ’n vroeëre beenmurgoorplanting beskadig is, is verlede Donderdag verwyder. Hoewel dié dapper dogtertjie sedert eenjarige ouderdom aan chroniese granulomatose gely het, het sy meesal gesond voorgekom. ’n Beenmurgoorplanting was egter ’n noodsaaklike poging om haar van die siekte te genees.

Die Engelbrecht-gesin. Foto: Facebook
Pelser sê hoewel mensewoorde soms leeg klink, beteken dít en ’n hand op die skouer die wêreld vir só ’n eensame ouer in sy tyd van smart. Dit is egter ook ’n tyd waarin die ware betekenis van troos uit God se Woord aan die naasbestaandes oorgedra moet word.
”Dit is nie slegs menslike troos nie, maar veral troos uit die Woord wat aan ouers gebied moet word.” – Ds. Pelser
Die begrafnis van Liza vind Vrydagmiddag 14:00 plaas by die landgoed Lavender Hill buite Bethlehem. Dit word waargeneem deur Pelser.
