Central SA
Lang rehabilitasiepad begin vir Michael─── 12:02 Thu, 03 Aug 2023
Ná 36 dae is Michael Pretorius (21) uit die Pelonomi-hospitaal ontslaan en het hy met sy lang rehabilitasieproses in Gauteng begin.
Sy pa, Nicky Pretorius van Vaalpark in Sasolburg, sê dit gaan baie beter met Michael. Hy en sy ouer broer Nicky (22) was op 28 Junie saam in ’n motorongeluk.
Nicky is die dag ná die ongeluk in die Sasolburg-hospitaal oorlede. Michael is later na die Pelonomi-hospitaal oorgeplaas. Hy het sy nek en rug gebreek. Hy het ook altwee sy bene gebreek en gesukkel met bloedtoevoer na sy linkerbeen. Aanvanklik is vir ’n amputasie van sy voet gevrees maar dit kon voorkom word. Sy longe is ook beseer en hy was vir 14 dae aan ’n ventilator gekoppel.

Michael en Nicky Pretorius. Foto verskaf
“Ons kan sien dit begin beter gaan, soos wat hy vorder,” vertel sy pa. Michael kan steeds niks van die ongeluk onthou nie.
“Verder huil hy net vreeslik baie oor sy broer. Hy mis hom verskriklik baie. Hulle twee was onafskeidbaar en sy dood is vir Michael baie swaar.”
Oor sy fisiese herstel is almal positief. ’n Rugoperasie hoef nie gedoen te word nie. “Hy mag steeds nie op sy linkervoet trap nie. Hy het egter reeds saam met die fisioterapeut oefeninge begin doen. Ons glo sy linkerkant sal heeltemal genees.”

Michael Pretorius op die herstelpad. Foto verskaf
Familie en vriende samel geld vir Michael se rehabilitasie in. Die koste beloop meer as R300 000.
Nicky sê hulle familie is baie dankbaar vir almal se volgehoue ondersteuning en gebede.
OFM Nuus/Karen van der Berg
