Central SA
Valke, polisie ontbied na hof vir ondersteuning─── HEIDRÈ MALGAS 16:20 Thu, 03 Aug 2023

Talle ondersteuners was op 2 Augustus 2023 na die landdroshof in Brandfort op pad om die hofsaak teen die Verkeerdevlei-boere by te woon.
Inwoners was egter ongelukkig oor die paaie wat geblokkeer was en het die hulp van die Valke en die polisie ontbied.
Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, sê hulle kan bevestig dat voertuie van mense wat die hofverrigtinge wou bywoon – om drie beskuldigdes van die Verkeerdevlei-geval te ondersteun – die pad na die landdroshof versper het.
“Die ondersteuners het ou vlae gehad, wat deur ’n vorige regering van Mzansi gebruik is. Diegene wat die hof bygewoon het, is gewaarsku om hul voertuie te verwyder. Toe daar geen samewerking was nie, is die nommerplate van daardie voertuie, wat die pad versper het, geneem,” sê Thakeng.
Die Transvaalse Vierkleur, die amptelike vlag van die Zuid-Afrikaansche Republiek, het amptelik as die landsvlag gedien vanaf 1858 tot 1902. Die Bittereinders se vlag is ook gesien.
Verkeerdevlei-polisie het die Valke se hulp ingeroep. Foto: Facebook/Bittereinders
OFM Nuus het vroeër berig die sosialemediapersoonlikheid Willem Petzer sê een van die vermeende veediewe wat deur die vroueboere in hegtenis geneem is, het buite die hof met sy "Black Lives Matter"-plakkaat betoog teen die beskuldigdes se borgtog. Die vroueboere was drie dae in aanhouding terwyl die polisie die vermeende veedief na bewering skotvry laat loop het. Daar was ook bewerings dat die polisie hul mag misbruik het.
Verder sê Petzer die Verkeerdevlei-polisie het die Valke ontplooi toe hulle gister buite die hof was, omdat hulle beweer het die “boere beset die polisiekantoor gewelddadig”.
Vermeende veediewe wat deur die vroueboere in hegtenis geneem is, buite die hof met ’n "Black Lives Matter"-plakkaat. Foto: Facebook/Bittereinders
Thakeng sê daarna is 'n saak van obstruksie van ander padgebruikers onder die Padverkeerswet, Regulasie 319, afdeling 1, geregistreer vir verdere ondersoek deur die Brandfort-speurdiens.
Die polisie van Brandfort was daar om die hofverrigtinge te monitor tot die drie beskuldigdes van Verkeerdevlei op borgtog vrygelaat is en die hof verdaag het.