Central SA
14-jarige vermoor vir dagga in Upington─── HEIDRÈ MALGAS 10:26 Sat, 05 Aug 2023
Drie mans van Paballelo, Upington, het in die hof verskyn op aanklagte van moord nadat ’n 14-jarige wreed vermoor is oor dagga.
Mojalefa Senokoatsane, NVG-streekswoordvoerder, sê Elvis Bongani Sikepe (38), Isaacs Vywers (19) en Thomas Christopher Rodney Lebitsa (19) het in die Upingtonse landdroshof verskyn op aanklagte van moord en ontvoering van die 14-jarige Cashwin Theo Diteho.
“Daar word beweer dat die beskuldigdes Dinsdagaand (1/8) by die slapende slagoffer se huis aangekom het, en geëis het dat hy dagga teruggee wat hy glo gesteel het.” Die slagoffers het eers ontken hy het die dagga gesteel, maar Sikepe het glo gedreig om hom en sy vriende dood te maak omdat hy sy dagga gevat het.

Theo Diteho (14) het in die hospitaal aan brandwonde beswyk. Foto verskaf
Die beskuldigdes het Diteho toe na bewering teen sy wil saam met hulle saamgeneem. Die volgende dag het Sikepe die slagoffer na die plaaslike hospitaal geneem met ernstige brandwonde aan sy lyf. Diteho het later aan sy wonde beswyk.
“Die saak is aan die polisie gerapporteer en drie verdagtes is in hegtenis geneem. Die saak is uitgestel tot 10 Augustus vir borgtoginligting en moontlike borgtogaansoeke,” sê Senokoatsane.
‘Die gemeenskap is woedend oor die voorval’
Die DA het saam met inwoners na die hof opgeruk om hulle skok te toon oor dié wrede moord op ’n kind. Sam Sandlana, raadslid van die Dawid Kruiper-munisipaliteit, sê die gemeenskap is woedend oor die voorval en eis geregtigheid vir die familie.
“Daar is geen plek vir sulke wreedheid en geweld in ons gemeenskappe nie. Inwoners van Paballelo verdien ’n veilige en geskikte omgewing waarin hulle hul kinders kan grootmaak, nie een waar hulle in die middel van die nag deur genadelose moordenaars geteister word nie.’
