Central SA
Medici se bakkies by Pelonomi-hospitaal gesteel─── TSHEHLA KOTELI 15:31 Tue, 08 Aug 2023
Werknemers van die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein se voertuie verdwyn geheimsinnig van hul 'veilige' parkeerplek.
Die voertuie is op twee afsonderlike dae gesteel en albei omstreeks 06:30. Die fisioterapeut Riaan Meyer het Dinsdag (08/08) gesê hy het omstreeks 06:30 by die Pelonomi Netcare-hospitaal aangekom nadat hy by ’n ander hospitaal was. “Ek het my voertuig op my gewone parkeerplek binne die hospitaal se veilige parkeerterrein geparkeer.”

Riaan Meyer se wit Toyota Hilux met die nommerplaat HLF 760 FS. Foto verskaf
Omstreeks 10:00 wou Meyer iets uit sy wit Toyota Hilux gaan haal, maar tot sy verbasing was dit weg. Die nommerplaat is HLF 760 FS en dit het ook die “Beaufort West Toyota”-handelsmerk op die agterkant.

So lyk die agterkant van Riaan Meyer se Toyota Hilux. Foto verskaf
Dr. Johan Buchner, ortopediese spesialis, het verlede week dieselfde ding oorgekom. Hy sê hy het 06:00 by die hospitaal aangekom, want dit is wanneer hul ortopediese vergadering begin. “Om 06:27 het ek ’n SMS van my versekering gekry wat sê daar is moontlik gepeuter met my voertuig se sein.”

Dr. Johan Buchner se wit Toyota Hilux se nommerplaat is OB 95 FS. Foto verskaf
Hy het gaan kyk en gesien sy wit Toyota Hilux is nie meer waar hy dit geparkeer het nie. Meyer en Buchner het die hospitaalbestuur daarvan ingelig en ’n saak by die polisie aanhangig gemaak. OFM Nuus het die Vrystaatse Departement van Gesondheid om kommentaar genader.
