Central SA
Vroueskut van Bloemfontein wys die manne ’n ding of twee─── HEIDRÈ MALGAS 11:13 Wed, 16 Aug 2023
Die skut Marthie Niemand van Bloemfontein het op die kampioenskap van die Suid-Afrikaanse Sport- en Jagfederasie die beste gevaar in twee van die handwapen-afdelings.
Haar pa, Pieter Müller, het haar reeds op negejarige ouderdom begin leer om vuurwapens te hanteer. Die eerste wapen waarmee sy kon skiet, was haar ouma Müller se .22 rewolwer. Sy sê sy was onmiddellik verlief op die reuk van kruit en die klank van ’n skoot wat afgaan.
Toe sy wen, was dit vir haar ’n gevoel van tevredenheid, maar ook ’n gevoel van nederigheid. Sy was gelukkig dat alles net reg verloop het.
Die Suid-Afrikaanse Sport- en Jagfederasie het drie handwapenafdelings. Elke afdeling word op verskillende afstande geskiet, met verskillende wapens, afhangende van die looplengte en die fisieke afmetings van die vuurwapen.

Marthie Niemand skiet met haar Star .22-pistool wat sy Suzi noem. Foto verskaf
"Die kompakklas wat op 10 m geskiet word, is my gunsteling. Daarin het ek my hoogste telling van 90% behaal. Die standaardklas word op 15 m geskiet, met ’n wapen wat effens groter is. Dit is die gewildste klas en die klas met die strafste kompetisie. In hierdie klas het ek 84% behaal.”
Die opeklas word op 25 m geskiet en die looplengte is langer as wat in die standaardklas toegelaat word. In hierdie afdeling is hulle baie minder skuts en was sy tweede met 78%.
Haar geheim tot sukses is om die basiese beginsels van skiet konstant dieselfde toe te pas. Sy sê dit is belangrik om te onthou skiet is soos enige ander sport want daar sal altyd iemand wees wat beter as jy skiet.

Marthie Niemand skiet sedert sy nege jaar oud is. Foto verskaf
“Jy het van September tot Junie om vir die volgende kampioenskap te kwalifiseer. Ons skiet min of meer een keer ‘n maand en daar was baie keer wanneer ek nie kon gaan skiet het nie. Elke oefening is maar soos ‘n kompetisie. Ek het hierdie jaar daarop gefokus om konstant dieselfde roetines te volg wanneer ek aanlê op die teiken en elke skoot skiet.
“Ek hoop dat ek vroue sal inspireer om by dié sport betrokke te raak. Vroue kan net so goed, en soms beter, as mans skiet,” sê sy.
En oor om die manne ‘n ding of twee te wys? “Ek dink die gevoel kan die beste beskryf word, met die woord genoegdoening!"
OFM Nuus
