Central SA
Woodland Hills wil onafhanklik van Mangaung Metro wees─── 09:14 Fri, 18 Aug 2023

’n Saak is onlangs voor die hof gebring waarin die inwoners van die Woodland Hills-landgoed pleit om nie meer van Manguang-metro se dienslewering gebruik te maak nie.
Bloemfontein Courant se Justine Fortuin berig Willem van Huyssteen, uitvoerende hoof van die Hillandale Home Owners Association, het in ’n verklaring aan die hof gesê die eiendomsontwikkeling behartig sy eie vullisverwydering deur middel van onafhanklike kontrakteurs.
“Adv. Stefan Grobler (Senior Advokaat) het voor regter Pitso Molitsoane gevra dat die 1 450 woonerwe op die landgoed van die metro se vullisverwydering vrygestel sal word," sê Max Blom van die Mangaung-belastingbetalersvereniging.
“Die advokaat het dit ook aan die hof gestel dat die landgoed met dorpstigting in 2004 en 2018 goedkeuring ontvang het, op voorwaarde dat die gebied vir sy eie vullisverwydering verantwoordelik sou wees."
Hy sê hoewel die metro wel in ’n stadium vullis verwyder het, is klagtes oor die swak diens ontvang. Privaat kontrakteurs is toe aangestel wat die werk nou suksesvol verrig. “Die belastingbetalersvereniging verwelkom pogings om die las van swak dienslewering deur die metro af te skud.
"Belastingbetalers kan nie vir swak en gebrekkige dienslewering betaal terwyl onafhanklike diensverskaffers die diens moet lewer nie. Die tyd het aangebreek om die funksies van die metro te privatiseer omdat dit vir almal duidelik is dat die sogenaamde ‘diens’ net ‘n melkkoei vir astronomiese salarisse is."
Bloemfontein Courant het Van Huyssteen om kommentaar genader. Hy het gesê Huyssteen hulle kan nie veel meer sê as wat in Vrydag se Volksblad geskryf is nie, want die regter het uitspraak voorbehou.
Manguang-metro het nog nie op navrae gereageer nie.