On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Krugersdorpse skool maak hul harte oop om maats te help

───   ELSABÉ DE JAGER 14:18 Mon, 21 Aug 2023

Krugersdorpse skool maak hul harte oop om maats te help | News Article
Met 94 drieë deur Kenmare se jong rugbyspelers het hulle bygedra tot ’n aangepaste skootrekenaar vir ’n tienerseun van Bloemfontein. Foto verskaf

’n Wes-Randse skool in Krugersdorp het hul hart oopgemaak om twee maats te help en hul drome waar te maak.

Die Drieë vir Drome-veldtog en die Doele vir Drome-projek het mense aangegryp en hul beursie laat oopmaak vir die weldaad van die Laerskool Kenmare in Krugersdorp.

In Grey Kollege se superreeks vroeër vanjaar in Bloemfontein is elke drie geborg wat deur ’n Kenmare-speler gedruk is. Met hul kuiers agter die doellyn, het dié jong rugbyspelers bygedra vir ’n aangepaste skootrekenaar vir ’n tienerseun van Bloemfontein.

Jay Bee Farmer (14), ’n leerling van die Martie du Plessisskool, is in 2021 ernstig in ’n motorongeluk beseer. Hy is ’n kwadrupleeg weens die omvang van sy rug-en nekbeserings en het slegs beperkte beweging in sy linkerhand.

Jay Bee Farmer is sedert 2021 ’n kwadrupleeg. Foto verskaf

Jay Bee, ’n opgewekte kind met ’n uitsonderlike sin vir humor, se grootste wens was rekenaartoerusting met ’n muis wat hy met sy kop kan beweeg en met sy linkerhand kan beheer. Hierdie toevoeging, waarvan die koste R42 000 beloop, sal hom onafhankliker kan laat funksioneer.


Wouter Immelman, skoohoof van die Laerskool Kenmare, sê die deernis op sy leerders se gesig toe die projek tydens saalopening aan hulle verduidelik is, was hartroerend. Hier was ’n fondsinsameling wat anders gelyk het as die gewone projekte vir hul skool. Hierdie was vir hulle ’n kans om welwillendheid te wys en terug te gee aan dié wat minder geleenthede het.

Hy sê 94 drieë is gedruk tydens die Grey-toer en die groepwedstryde in die Super 12-reeks. Die teikenbedrag het ook die laaste hupstoot gekry van nóg ’n weldoener. Richardt de Vos, eienaar van die plaas Kwaggasfontein buite Colesberg, het ’n jagpakket geskenk wat Kenmare in staat gestel het om die toerusting vir Jay Bee aan te koop. Die groot geskenk word vandeesweek aan Jay Bee oorhandig in Bloemfontein.

Die Laerskool Kenmare het die Doele vir Drome-projek begin om Chermelle by te staan. Foto verskaf

Die gehoorgestremde Chermelle Maasdorp van Upington wag al vir etlike jare op ’n kogleêre inplanting. Ook hier het Kenmare ingespring met hul Doele vir Drome-projek. Hoewel ’n teikenbedrag van R400 000 ter sprake is, is die onmiddellike poging om R10 000 in te samel reeds goed op dreef.  Daarmee kan Chermelle formele onderrig in gebaretaal ontvang.

Afgesien van die netbaldoele-projek, word ’n staptog van Uniondale na Mosselbaai beplan om nog geld vir die inplanting in te samel.


Elsabé Bell, onderwyseres en projekbestuurder van Kenmare, sê die les wat uit hierdie twee projekte voortspruit, is die gawe van hoop wat vir elke mens beskore moet wees. Vir haar is dit ’n groot voorreg om aan die stuur van hierdie geleentheid te staan.

OFM Nuus




@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.