On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Gedenkdiens vir Deon Nel bring troos vir familie, vriende

───   14:33 Tue, 29 Aug 2023

Gedenkdiens vir Deon Nel bring troos vir familie, vriende  | News Article
Deon Nel. Foto: Verskaf

Om vir die familie troos te bring waar hulle vasgevang is tussen hartseer, verlange, verwyte en hoop vir die pad vorentoe. Dit is die boodskap wat hy graag wou bring.

Hulle moet ook weet, ongeag ’n warboel van emosies kan niks hulle van God se liefde skei nie. So sê ds. Gerhard Viviers, Hervormde predikant van Wolmaransstad, wat Saterdag die gedenkdiens van Deon Nel gehou het.

Die familie het aanvaar Nel is vermoor en dit was noodsaaklik vir hulle om ’n diens te hou om afsluiting te kry, sê ’n familievriend. Nel word sedert 6 Julie vermis nadat hy in ’n kroeg in sy tuisdorp gaan kuier het. Soektogte na sy liggaam was nog nie suksesvol nie. Hoewel dit algemeen aanvaar word dat sy liggaam in ’n diep en oop mynskag naby Stilfontein gegooi is.

Die diens Saterdag is deur ’n groot groep mense bygewoon. Viviers sê die familie het die teksverse in Romeine 8: 31-39 en Eksodus 14: 11-22 gekies om afskeid te neem.

Die begrafnisbrief vir Deon Nel. Foto: Verskaf

In die begrafnisbrief is daar ook in ’n roerende huldeblyk deur die familie geskryf:

“Die dade van booswigte het ons lewe tot stilstand gebring, en jou wreed van ons af weggeruk. Maar ons weet dat jou geloof vir jou ’n erns was, tot op jou laaste gesprek op 5 Julie 2023. Dankie vir jou uitleef van jou geloof, dat jy ’n kind van die Here is, dit bring vir ons groot troos. Jou liefde vir diere en die natuur, jou regverdigheid en mededeelsaamheid. Ons liefde vir jou sal vir ewig in ons bly en die verlange sal altyd wees.”

Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder in Noordwes, het vroeër aan OFM Nuus bevestig ’n 18-jarige man en ’n 26-jarige vrou is reeds aangekeer. Daar is heelwat van Nel se besittings in hul besit gevind en hulle bly in aanhouding.

Deon Nel se familie het aanvaar dat hy vermoor is. Foto: Verskaf

Myburgh sê die twee verdagtes se name word weerhou weens die sensitiwiteit van die ondersoek.

OFM Nuus/Karen van der Berg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.