Central SA
Seun se kniepyn toe eintlik kanker─── HEIDRÈ MALGAS 16:21 Tue, 29 Aug 2023
'n Jong seun van Bloemfontein, Caylen Venter (12), het gekla sy knie is seer. Kort daarna is kanker egter by hom gediagnoseer.
Sy pa, Tiaan Venter, sê Caylen beoefen sport en hulle het gedink dit was 'n stamp wat die knie seergemaak het. "Teen die tweede week het ons bekommerd begin raak omdat die pyn erger geword het en nie weggegaan het nie. Hy het moeilik begin loop en ons het hom na die dokter geneem," sê Venter.

Caylen Venter in die hospitaal nadat ’n volledige ondersoek en biopsie gedoen is. Foto verskaf
Die radioloog het iets vreemds opgemerk en hulle is na ’n ortopediese spesialis verwys. Hy is dieselfde dag in die hospitaal opgeneem vir ’n volledige ondersoek en biopsie. Daar is toe bevestig dat hy kanker in sy been het.

Caylen Venter sal binnekort weer chemoterapie kry. Foto verskaf
"Daar is ’n knop op sy heup en in sy een long, almal aan die linkerkant van sy liggaam." Hy sê hulle was geskok want niemand in hul familie het kanker nie. Hulle weet nie wat kankerbehandeling behels en hoe dit werk nie.
"Die dokter het verduidelik dat daar 'n 40%- tot 60%-kans is dat die chemoterapie sal werk," sê hy.
Ná Caylen se eerste chemoterapie was hy te siek om behoorlik te kon eet of drink. Hy sê die moeilikste is die moontlikheid dat Caylen sy been kan verloor.
OFM Nuus
