Central SA
Man betrap met gesteelde koper ter waarde van R100 000─── ZENANDE MPAME 14:07 Wed, 30 Aug 2023
Die onlangse toename in die diefstal van koperkabels is kommerwekkend.
’n 40-jarige man is die naweek in Viljoensdrift in hegtenis geneem nadat 671 kg koperkabels in sy voertuig gevind is.
Die polisie was besig met ’n patrollie toe hulle die verdagte voertuig op die R82 opgemerk het. Die bestuurder is ’n buitelander en het nie die nodige identifikasie by hom gehad nie. Manuel Jofrisi is in hegtenis geneem en daar is ook beslag op sy voertuig gelê. Hy het Maandag in die landdroshof in Sasolburg verskyn.
“Die saak teen hom is tot Vrydag vir ’n borgtogaansoek uitgestel. Hy staan tereg op drie aanklagte van diefstal van koperkabels, beskadiging van noodsaaklike infrastruktuur en die oortreding van die Immigrasiewet,” sê Phaladi Shuping, die Vrystaatse NVG-woordvoerder.
Lele Mamatu, woordvoerder van Centlec, sê die onlangse toename in die diefstal van koperkabels is kommerwekkend en hulle doen 'n beroep op wetstoepassers en buurtwaglede om te help om hierdie misdaad hok te slaan.
OFM News/Zenande Mpame
