Central SA
Hulp gevra vir barmhartige samaritaan se kankerlyding─── HEIDRÈ MALGAS 08:00 Thu, 31 Aug 2023
Blaaskanker is in Julie vanjaar by Ferdie Bergh (57), ‘n barmhartige Samaritaan van Klerksdorp, gediagnoseer.
Jenine Beets, sy dogter, sê haar haar pa is op 10 Julie dokter toe vir ’n roetineondersoek. ’n Klein gewas is in haar pa se blaas opgemerk. Die dokter wou dit so gou moontlik verwyder. “Tydens die operasie op 27 Julie het die dokter opgemerk die gewas is baie groter maar hy kon nie die hele gewas verwyder nie,” sê sy.
Die gewas is weggestuur vir toetse, wat getoon het die blaaskanker is reeds gevorderd (derde fase).
“Die dokter wil so gou moontlik die operasie doen om my pa se blaas en prostaat te verwyder voordat dit verder versprei. Die dokter het gesê hy gee hom ses weke,” sê sy.
Bergh se familie doen alles in hulle vermoë om geld in te samel omdat sy hospitaalplan nie al die rekeninge betaal nie. Hulle vra hulp van familie, vriende en die publiek om hom te help om die nodige fondse te bekom.
Hy het ’n hospitaalplan, maar ongelukkig betaal dit nie alles nie. Die privaat hospitaal versoek ook die volle bedrag voordat hy opgeneem word.
“Die dokter het ook verduidelik my pa kan nie ’n staatspasiënt word nie, omdat hy eers deur hul stelsel sal moet gaan en eers oor ’n jaar in ’n staatshospitaal geopereer sal kan word,” vertel Beets.
Bergh is die eienaar van GGS Engineering en baie mense het al vir hom gewerk. Hy is ook baie betrokke by liefdadigheid.
Besoek die Facebook-blad Fighting for Ferdie om op die hoogte te bly en te help indien moontlik.
OFM Nuus
