Central SA
Reisende likkewaan ongedeerd in ideale habitat vrygelaat─── CORNÉ GREYVENSTEIN 17:49 Tue, 05 Sep 2023

“Ons het byna ’n uur lank gesukkel om die likkewaan uit Melandi se motor te kry. Ons moes die motor se rooster verwyder om by dié sterk mannetjie uit te kom.”
Melandi Stander van Kelly's View, Bloemfontein, se verloofde, Rikus Koekemoer, het gedink sy het ’n voël raakgery toe sy met haar Renault Kwid by sy werk aangekom het. “Hy het my motor se enjinkap oopgemaak om te kyk of hy iets kan sien en dit dadelik weer toegeklap toe hy ’n reptiel se vel sien. Ons het eers gedink dis ‘n groot pofadder, maar toe ons die klou met die naels sien, het ons besef dis nie ‘n slang nie.”
Die klou het hulle laat besef dis nie 'n slang nie. Foto: Rikus Koekemoer
Hulle het besluit om eerder ’n kenner se hulp in te roep omdat hulle nie seker was of die gedierte dalk gifkliere het nie. Dít is hoe Stephan Fourie betrek is, ’n verkoopsbestuurder van die chemiese maatskappy Sika Suid-Afrika en ’n professionele slangvanger. Met baie ondervinding en 'n bietjie geluk sien hy ook kans vir enige reptiele, valke of wilde dier wat gewone mense ongemaklik laat voel.
Stander woon in ’n meenthuiskompleks op ’n kleinhoewe wes van Bloemfontein. Sy was die naweek uitstedig en haar motor was waarskynlik die ideale wegkruipplek vir die likkewaan wat dalk deur iets gejaag is, sê Fourie.
“Ons het byna ’n uur lank gesukkel om die likkewaan uit Melandi se motor te kry. Ons moes die motor se rooster verwyder om by dié sterk mannetjie uit te kom.”
Die likkewaan is Maandagaand deur ‘n veearts ondersoek en het geen beserings opgedoen nie. Hy is Dinsdagoggend sonder sy medereisigers – vyf bosluise – op ’n plaas van ’n vriend van Fourie vrygelaat waar daar voldoende kos, water en nuwe wegkruipplekke is.
Likkewane is gewoond daaraan om tussen rotse en klippe weg te kruip. Foto: Rikus Koekemoer
Fourie kan in ‘n noodgeval gekontak word by 084 400 4430.