Central SA
Roerende afskeid gehou vir njalabul-slagoffer─── KAREN VAN DER BERG 08:19 Wed, 06 Sep 2023

“Sy dood is ’n vreeslike verlies. Hy het ons geleer om nie bang te wees om vir mense te sê jy is lief vir hulle nie.”
Renier Pieterse was ’n ongelooflike staatmaker, grapmaker, gesinsman en ’n wonderlike pa vir sy kinders.
Met dié trooswoorde uit Psalm 119:50-56 is verlede week afskeid geneem van Renier Pieterse (35) wat op 26 Augustus in ’n fratsongeluk deur ’n njalabul doodgemaak is.
Sy gedenkdiens is deur baie mense bygewoon toe dit Vrydag (1/9) vanuit die NG Kerk Vaalrivier in Vanderbijlpark gehou is. Jaco Pieterse, Renier se broer, sê die mense wie se lewe Renier aangeraak het, is te veel om te probeer tel. “Sy gedenkdiens is amper al duisend keer op YouTube gekyk.”
Pieterse was die aand van die ongeluk besig om die bul, wat oor ’n heining gespring het, terug te lei. Dit het op sy plaas in Boschhoek, ongeveer 35 kilometer buite Potchefstroom, in die rigting van Fochville, gebeur.
“Hy het die plaas sowat vier maande gelede bekom. Hy was so opgewonde oor die plaas en het soveel drome en planne gehad. Hy was ’n nuwe mens. Hy het die plaaslewe so geniet en selfs die honde het heeldag saam met hom rondgery.”
Renier Pieterse sou binnekort sy 36ste verjaarsdag gevier het. Foto verskaf
“Sy dood is ’n vreeslike verlies. Hy het ons geleer om nie bang te wees om vir mense te sê jy is lief vir hulle nie.”
Pieterse se vrou, Marieke (35), het aan OFM Nuus gesê hulle was 12 jaar getroud. Hulle het twee seuns, Luhan (8) en Dian (6). “Renier sou oor ’n paar weke 36 jaar oud geword het,” sê sy.
“Hy was ’n spontane mens en het almal altyd laat lag en ’n positiewe invloed op elke mens gehad wat hy ontmoet het. Hy was ’n ongelooflike staatmaker, grapmaker, gesinsman en ’n wonderlike pa vir sy kinders.”
OFM Nuus/Karen van der Berg