On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Potch-ongeluk: 'My broer was die middelpunt van ons familie'

───   KAREN VAN DER BERG 08:50 Wed, 06 Sep 2023

Potch-ongeluk: 'My broer was die middelpunt van ons familie' | News Article
Hy was die middelpunt van die familie. Foto verskaf

"Sy voetspore sal nooit gevul kan word nie," sê sy suster.

Familie en vriende van Landré Gustafson (20), wat Sondag in Potchefstroom in ’n motorongeluk gesterf het, is steeds in skok. 

“Sy voetspore sal nooit gevul kan word nie,” sê sy suster, Shiné Gustafson (16). “My boetie was ’n mense-mens. Hy was altyd omring deur mense. 

“Landré het die grootste hart gehad en altyd omgegee vir ander. Hy was ’n groot rots in ons lewe, hy was altyd daar om te help.” 

Shiné sê hy was die beste broer waarvoor ’n mens kon vra. “Ons as familie gaan hom so baie mis. Hy was geliefd onder sy vriende en hulle het hom hoog geag, dit kan ons sien deur die ondersteuning en huldeblyke wat instroom.”

Landré was die middelpunt van die familie.  “Sy naam beteken heerser, en hy was inderdaad een.”

Landré Gustafson het altyd omgegee vir ander. Foto verskaf

Die familie is nog nie heeltemal seker wat gebeur het nie.

“Ons was op pad terug huis toe en het saam gery. Hy was in die voertuig voor ons. Ons het eers gestop om kos te kry en hy het vooruit gery.” 

Hulle was nie ver van die huis af nie, toe hulle op die ongelukstoneel afgekom het. “Ons het geen idee wat gebeur het nie. Dit was ’n groot skok.”

Potchefstroom Herald berig die ongeluk het op die hoek van Meyerstraat en Thabo Mbeki-rylaan gebeur. Sy bakkie het gerol en net sy voertuig was in die ongeluk betrokke. 

Shiné sê ’n viering van sy lewe gaan môre om 11:00 uit die Duet-gemeente gehou word. Dit sal ook regstreeks uitgesaai word.

“Ons as familie wil almal vir hulle ondersteuning bedank. Ook vir die nooddienste wat hulp verleen het. Ons wil ons Abba Vader bedank dat hy Landré vir 20 jaar vir ons geleen het.”

’n Viering van sy lewe vind Donderdag plaas. Foto verskaf

Landré, ’n oudleerling van die Hoërskool Potchefstoom Gimnasium, was ’n tweedejaarstudent aan die Noordwes-Universiteit en het B.Com. Bestuursrekeningkunde studeer. Hy word ook deur sy ouers, Corné en Letitia, en broer, Arno Gustafson (24), oorleef.

OFM Nuus/Karen van der Berg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.