On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Man kry borgtog ná beweerde aanranding in Klerksdorp

───   HEIDRÈ MALGAS 16:11 Thu, 07 Sep 2023

Man kry borgtog ná beweerde aanranding in Klerksdorp | News Article
Wernich Botha. Foto: Facebook

"Daar was ’n ernstige misdaad gepleeg en my fokus is slegs om geregtigheid vir die slagoffers te kry."

Borgtog van R2 000 is toegestaan aan Wernich Botha (33) nadat hy vandag in die landdroshof in Klerksdorp verskyn het. Dit volg nadat hy na bewering die naweek twee mans aangerand het.

Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder in Noordwes, sê hy moet weer op 19 Oktober in die hof verskyn. “Botha is vanoggend in hegtenis geneem. Volgens ons inligting het hy ’n 32-jarige en 44-jarige man in die Doornkruin-winkelsentrum in Klerksdorp aangerand.”

Hilton Pretorius (32) het ’n breinbesering opgedoen en PW Roos onder meer ’n skouerbesering.

OFM Nuus het vroeër berig die polisie ondersoek ’n saak van poging tot moord en aanranding nadat ’n video van die bakleiery op sosiale media versprei is.

Morné Swart, misdaadaktivis en stigter van die Facebook-blad ‘Our Voices’, sê sy werk is om druk te plaas op die polisie en om seker te maak die saak word nie onder die mat ingevee nie.

“As aktivis gee ek glad nie om wat voor die aanval gebeur het nie. Daar was ’n ernstige misdaad gepleeg en my fokus is slegs om geregtigheid vir die slagoffers te kry. Hier is ongelukkig geen wenners nie. Dit is ’n baie hartseer geval.”

Die polisie vra dat die video nie verder op sosiale media versprei word nie omdat dit die ondersoek kan bemoeilik,” sê Myburgh. Sello Kwena, provinsiale kommissaris, het die voorval veroordeel en sê konflik moet eerder vreedsaam opgelos word.

OFM Nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.