Central SA
Gebreide beertjies bring vreugde na VVLU-kongres─── ELSABÉ DE JAGER 13:55 Fri, 08 Sep 2023

Dié gebaar sou aansluit by die tema van vanjaar se kongres, "Jy is genoeg".
Houers vol addisionele gaste het vandeesweek hulle opwagting gemaak by die 93ste kongres van die Vrystaat Vroue Landbou-unie (VVLU) in Bloemfontein.
Winnie Ward, uitvoerende bestuurder van Area 11, sê ’n versoek is aan elke kongresganger gerig om ’n klein handgebreide of gehekelde beertjie saam te bring. Dié gebaar sou aansluit by die tema van vanjaar se kongres, “Jy is genoeg”. Die beertjies, elk met die temaboodskap vasgestrik aan hul lyfies, word dan ná afloop van die kongres uitgedeel aan kinders wat hulself in moeilike omstandighede bevind.
Meer as 900 van hulle het die tafel vol gesit. Foto verskaf
Ongeveer 600 beertjies is verwag, maar spoedig het 900 van hulle die tafels vol gesit. Die kleurvolle gesig het menige oog in die saal klam gelaat. Ward sê dié eregaste wissel in grootte, sodat selfs die kleinste baba so ’n troosgeskenkie in sy hand kan toevou.
Die kongres het Woensdag ’n aanvang geneem met dr. Gustav Gouws as hoofspreker. Ook Johannes de Villiers, Bloemfonteinse blydskapskrywer, het as spreker opgetree. Die sanger Jac de Priester het as gaskunstenaar verdere luister aan die gebeure verleen. Radiopersoonlikheid Derrich Gardner is deur die organisasie as persoonlikheid van die jaar aangewys.
Gerda Pienaar, uittredende VVLU-president Foto: Facebook
Elsabé Kotze van Jagersfontein is as die nuwe VVLU-president aangewys. Sy neem die leisels oor by Gerda Pienaar, wie se ampstermyn ná ses jaar ten einde geloop het. In haar afskeidswoorde het Pienaar haar dankbaarheid uitgespreek om aan die hoof van ’n groep vroue te kon staan wat verruiming aan vroue met dieselfde waardes bied en ’n positiewe bydrae aan die gemeenskap en land lewer.
OFM Nuus/Elsabé de Jager