Central SA
’n Kort pelgrimstog op Erfenisdag─── ELSABÉ DE JAGER 13:12 Wed, 13 Sep 2023
Op 25 September kry Bloemfonteiners die geleentheid om deel te neem aan ’n staptog van 5 km, wat erfenisbakens insluit.
“Loop vir Hoop is ’n kort pelgrimstog op Erfenisdag wat elke stapper landwyd se lewe kan verryk en nuwe hoop gee," sê ds. Frederick Marais, organiseerder van die Pelgrimstog van Hoop.
Die Pelgrimstog van Hoop is in 2014 deur Marais en Communitas in die Wes-Kaap begin. Hy het dit na die die voorbeeld van die Camino de Santiago in Spanje ontwikkel. Sedertdien het die pelgrims van dié aksie van hoop, met hul kenmerkende rooi hoede, al ’n bekende gesig op die roetes landwyd geword. Loop vir Hoop is as't ware ’n verkorte weergawe daarvan.
Op 25 September kry Bloemfonteiners die geleentheid om deel te neem aan ’n staptog van 5 km, wat erfenisbakens insluit. Stappers sal by elkeen vertoef en luister na ’n kort inligtingspraatjie.

Pelgrimstog van Hoop-stappers bereik Cape Agulhas. Foto: Facebook
Al is Loop vir Hoop nog in sy kinderskoene is die terugvoer tot dusver oorweldigend, sê Marais. Vyftig gemeenskappe landwyd neem deel, waaronder Mosselbaai, Uniondale, Randburg, Stellenbosch en die Paarl.

’n Kort pelgrimstog wat elke stapper se lewe kan verryk. Foto verskaf
Jaco Olivier, argitek en dosent van Bloemfontein, maak na verwagting einde vandeesweek die staproete deur die stad bekend.
Pelgrims soos die skrywers Erns Grundling en Barend le Grange het reeds bevestig hulle stap saam. Ná die staptog kan deelnemers saam braai, kontreikos geniet en so ook ’n koserfenis met mekaar deel.
OFM Nuus/Elsabé de Jager
