Central SA
Vrystater seën vragte droogtehulp op sy knieë─── KAREN VAN DER BERG 14:52 Thu, 14 Sep 2023
“Die lewe is deesdae so swaar. As hy vir ons slaan, slaan hy gelukkig net tot op die knieë.”
“Sonder gebed is ons niks. Sonder gebed kan ek nie opstaan en leef nie.”
Só vertel Sterrenberg Pretorius (47) van Virginia wat sosiale media vandeesweek laat gons het. Pretorius bid vir elke geskenkte vrag voer vir boere wat deur wydverspreide veldbrande geraak word.
Hy sê hy het gehoor en gesien daar is soveel vernietiging weens die verwoestende veldbrande van plase in veral Sentraal-Suid-Afrika, dat hy besluit het om te help. “Ek het self nie voer nie, maar besit vragmotors en het dit beskikbaar gestel.”

Sterrenberg Pretorius het sy vragmotors beskikbaar gestel om voer na boere te vervoer wat skade weens die veldbrande gelei het. Foto verskaf
Pretorius het kontak gemaak met die nieregeringsorganisasie Droogte Hulp met Burre Burger, en hulle het ingespring en teen Donderdag (14/9) reeds 12vragte gratis gelewer aan boere wat dit nodig het.
“Om te bid is mos maar iets wat van kleintyd af kom. Ons moet op ons knieë bly. Die lewe is deesdae so swaar, as hy vir ons slaan, slaan hy gelukkig net tot op die knieë, en van daar af kan ons maklik bid.”

Sterrenberg Pretorius ry ook vooruit en gaan bid vir die plaas waar die waardevolle vrag afgelaai word. Foto verskaf
Hy seën elke vrag. Ook die plaas waar dit vandaan kom en die plaas waarheen dit gaan. Hy ry ook self voor elke vragmotor uit en bid ook saam vir die boere.
Hy het baie boodskappe van dankbare mense gekry nadat Burre Burger foto’s op Facebook gedeel het van hoe hy bid. Dit is reeds meer as 300 keer gedeel en honderde gebruikers het kommentaar gelewer. “Die dankbaarheid van mense is vir my lekker, maar ek doen dit nie om aandag te trek nie, maar uit die liefde vir die saak.”
Burger sê dit is vir hom so mooi hoe Pretorius elke dag vir die vrag bid voordat dit die oplaaipunt verlaat.
