On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Ouers hoopvol ná kleuter se breinoperasie

───   HEIDRÈ MALGAS 16:22 Thu, 14 Sep 2023

Ouers hoopvol ná kleuter se breinoperasie | News Article
Klein Nolan Marais. Foto verskaf

"Op 23 weke het die dokters ons geadviseer om die swangerskap te beëindig omdat Nolan aan 'n sindroom kon ly, maar ons het daarteen besluit."

Nolan Marais (20 maande) van Vanderbijlpark is gediagnoseer met ernstige hidrokefalie, 'n kondisie waarin daar 'n ophoping van vog in sy brein is.

Nolan se ma, Jessica Marais, vertel dat hy ook gebore is met ’n gesplete lip, wat die dokter kon sien toe sy 20 weke swanger was en ook dat die baba moontlike breinprobleme sal hê.

"Op 23 weke het die dokters ons geadviseer om die swangerskap te beëindig omdat Nolan aan 'n sindroom kon ly, maar ons het daarteen besluit," sê sy.

Voordat Nolan met ernstige hidrokefalie gediagnoseer is. Foto verskaf

Nolan is ’n ware ligpunt vir hulle nadat ’n swanger Marais op 27 weke aan hulle eerste kind, wat later oorlede is, geboorte gegee het. 'n Maand later was Marais swanger met Nolan.

Sy vertel dat Nolan gesond gebore is op 13 Januarie 2022, op haar verjaardag en dat alles in orde was. 'n Maand en 'n half daarna het Nolan geweier om te eet en gesukkel om te slaap. Sy ouers het hom na ’n dokter geneem.

“Ek het die pediater alles vertel wat hulle vermoed het fout met Nolan was tydens die swangerskap, en dit is toe dat hulle ’n skandering (MRI) gedoen het. Hulle het opgemerk dat sy hele brein kleiner is as normaal en dat daar 'n sist is wat druk op sy serebellum plaas,” vertel Marais.

Voor Nolan se operasie. Foto verskaf 

Sy sê ook dat daar vir hulle gesê is dat Nolan sy mylpale later as normaal sal bereik, maar as hulle sien dat daar iewers anders 'n probleem is, dalk wanneer hy aanvalle of ernstige ontwikkelingsagterstande het, moet hulle teruggaan om die sist te verwyder omdat dit iets is wat vanself weg kan gaan.

“Op vyf maande het hulle Nolan se gesplete lip herstel. Hy het dinge later bereik as ander kinders, maar nog steeds op tyd. Hy het begin sit op 9 maande, half-half gekruip op 10 maande en volwaardig gekruip 'n maand voor sy eerste verjaardag,” sê Marais.

Sy sê toe hulle agterkom dat sy balans nie goed is nie, het hulle hom weer na die dokter geneem vir nog 'n skandering. Dit was toe wat hulle ontdek het dat hy ernstige hidrokefalie het en dat die sist op sy brein verdubbel het.

Ná Nolan se suksesvolle operasie. Foto verskaf

’n Week later is Nolan geopereer. Drie blokkerings is in sy brein geopen en ’n nuwe opening is in die serebellum gemaak sodat die serebellumvloeistof na sy liggaam kan deurgaan.

“Ons kan al ’n verskil sien in Boetie. Ons hoop en bid dat wanneer ons terugkeer na die dokter, die sist kleiner sal wees,” sê sy.

Die fisioterapeut het aanbeveel dat hulle 'n speelarea buite vir Nolan skep waar hy kan ontwikkel, vuil kan word en homself kan geniet.

Hy moet oor twee weke weer die dokter besoek om sy vordering te monitor.

OFM Nuus/Heidrè Malgas

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.