Central SA
Tronkstraf vir Noord-Kaapse polisielede wat bejaarde verneuk─── 09:00 Fri, 15 Sep 2023
“Sy was bang en paniekerig en het hulle R200 gegee.”
Twee Noord-Kaapse polisiebeamptes wat in 2021 tydens die Covid-19-pandemie ’n pensioenaris uit R200 geswendel het, is effektief tot twee jaar gevangenisstraf gevonnis.
Sers. Stanley Beukes (37) en konst. Thapelo Semamai (26) is vroeër vandeesweek deur die Upington-streekhof aan korrupsie skuldig bevind.
Tebogo Thebe, woordvoerder van die Valke in die Noord-Kaap, sê die duo het op 17 April 2021 ’n 74-jarige vrou voorgekeer terwyl sy onderweg na Upington was om noodsaaklikhede te gaan koop.
‘Dreig om bejaarde in hegtenis te neem’
“Die twee beamptes het gedreig om haar in hegtenis te neem omdat sy nie tydens vlak 5-inperking by die huis was nie. Hulle het haar Covid-19-reispermit geëis en toe sy erken dat sy nie een het nie, het hulle aangebied om een aan haar uit te reik sodat sy dorp toe kon gaan en inkopies kon doen.
“Hulle het vir haar gesê dit is tyd vir hul middagete en dat sy hulle iets moet gee. Sy was bang en paniekerig en het hulle R200 gegee. In die dorp het sy dadelik haar man geskakel, waarna sy polisie toe is om die saak aan te meld.”

Die saak is na die Valke verwys vir ondersoek en beide polisielede is aan ’n interne dissiplinêre verhoor onderwerp, waarna hulle afgedank is.
‘Ons moet eers ons eie huis skoonmaak’
Beukes en Semamai is op ’n aanklag van korrupsie in hegtenis geneem. Hulle het tydens hul verhoor onskuldig gepleit en gesê dat hulle nie betwis dat hulle die vrou voorgekeer en ’n permit uitgereik het, maar dat hulle ontken dat hulle omkoopgeld gevra het.
Die waarnemende hoof van die Valke in die Noord-Kaap, brig. Prince Mashimbye, het sy tevredenheid met die skuldigbevinding uitgespreek. “As ons hierdie stryd wil wen, moet ons eerste ons eie huis skoonmaak,” sê hy.
