On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Die saagmaestro van Philippolis springlewendig op 83

───   ELSABÉ DE JAGER 13:32 Tue, 26 Sep 2023

Die saagmaestro van Philippolis springlewendig op 83                                    | News Article
Vir baie jare het oom Jannie en sy vriende Philippolis se mense met hul musiek vermaak Foto facebook

"Al is hy nou ’n dorpsmens, keer niks hom om op 83 steeds ’n windpompwiel, soos nou die dag, reg te maak nie!"

Langs die ou pastorie in Voortrekkerstraat, reg oorkant die bymekaarkomstoep van Emily’s, woon oom Jannie en tannie Bekkie Cilliers saam met hul honde en koffers vol mooi herinneringe en stories.

Agt maltesers wag ons by die voorhekkie in en draf vooruit tot in die agterplaas, waar oom Jannie in die laatwinterson hitte sit en soek vir die griep wat nou al ’n tydlank lêplek in hom kom kry het. 


Hy is egter binne oomblikke op die been toe hy hoor ons wil kom stories uitpak saam met hom. Al roepend na tannie Bekkie iewers in die huis loop hy vooruit en maak vir ons plek in die sitkamer, oorgehaal vir die groot kuier wat nou gaan kom.

Oom Jannie en tannie Bekkie woon al baie jare in die dorpshuis nadat hy ná byna ’n leeftyd opgehou het om voltyds te boer in die distrik. Dit is in hierdie einste huis waar tannie Bekkie haar skoonouers ook versorg het tot hul dood. 

“Maar,” sê die tannie, wat intussen by ons aangesluit het, “al is hy nou ’n dorpsmens, keer niks hom om op 83 steeds ’n windpompwiel, soos nou die dag, reg te maak nie!” En hy is ook ’n man wat tot in die 2000’s Suid-Vrystaat-ligatennis gespeel het.

Die musikant en die onderwyseres. Foto verskaf

Dié musikant, wat geen formele musiekopleiding ontvang het nie en “als op die oor speel”, trek die saag wat met die jare vir soveel musiekplesier gesorg het, agter die sitkamerbank uit. Die saag wat rondom 1930 ingevoer is, het hy by sy oom gekry. Hy wys dat dit in ’n S-vorm is en dat daar altyd op die buig van die saag gespeel moet word.


Terwyl oom Jannie in sy musiekboks met die honderde CD’s vroetel, bewonder ons die fyn lintborduurwerk van tannie Bekkie teen die muur. Sy het in die vroeë 2000’s ná jare se onderwys afgetree by die dorpskool. Talle inwoners van Philippolis het in haar klaskamer gesit. Hulle praat met die grootste deernis van haar. Deesdae geniet sy die rustiger tye en toor sy dié lieflike kunswerke op.

Die klanke van oom Jannie se saagmusiek word dikwels in Voortrekkerstraat gehoor. Foto Facebook

Oom Jannie het ’n kwarteeu gelede in die Vrystaatse boereorkes gespeel. Hy was ook lid van die Tradisionele Boereorkesgroep, wat ’n derde plek in die nasionale boereorkeskompetisie losgespeel het. Hy is nie slegs meester van die saag nie, maar ook van die panfluit en kitaar.

Al het sy musiek hom die wêreld vol laat reis, het die pad oom Jannie altyd teruggelei na sy huis en familie op Philippolis. Sy herinneringe lê sy onthouboks vol. Dit besef ek toe hy die CD, ’n opname van 14 stukke waarin hy agt verskillende instrumente bespeel, in die speler druk.

OFM Nuus/Elsabé de Jager

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.