On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Bergmanshoogte, ’n skool van die lewe

───   ELSABÉ DE JAGER 13:50 Wed, 27 Sep 2023

Bergmanshoogte, ’n skool van die lewe | News Article
Rodney Engelbrecht wil graag vir kinders hoop gee. Foto verskaf

Elke kind is geregtig daarop om sy eie regmatige plek in die samelewing te mag inneem.

’n Paar kilometer uit die middedorp van Philippolis, verby die verkeersdepartement, draai die pad regs na die woonbuurt Bergmanshoogte.

Mooi name, soos Vinkstraat en Tinktinkiestraat, val my op. Ek vind Bergmanshoogte Primêre Skool in Arendstraat. Dis ’n nuwe gebou met kinders wat pas in die vierkant aangetree het ná speeltyd. Hulle waai vir my terwyl hulle in lang rye verbystap op die stoep.

Rodney Engelbrecht is al 21 jaar hoof van die skool, wat onderrig verskaf aan 376 leerders van gr. R tot gr. 7. Engelbrecht lag wanneer hy vertel dat hy die enigste man op die personeellys van 16 onderwysers is.

Die skoolgebou bied tuiste aan byna 400 leerlinge. Foto verskaf

Vir Engelbrecht het sy passie vir die onderwys reeds in sy eie skooljare begin. Hy is dankbaar vir méér as een leerkrag wat hom geïnspireer het om ook as grootmens die wêreld van die onderwys te betree. Sy grootste wens was dat hy, soos sy rolmodelle, ook eendag die lewe en hart van sy leerders sou aanraak. Hy is dankbaar dat hy saam met sy verpligtinge as skoolhoof, ook self kan klasgee.

Die lewensomstandighede van heelwat kinders in Bergmanshoogte hou groot uitdagings in. Hy wil graag eendag onthou word as ’n onderwyser wat vir kinders hoop kon gee. Selfrespek en menswaardigheid behoort elke kind in die samelewing beskore te wees. Elke kind is geregtig daarop om sy eie regmatige plek in die samelewing te mag inneem.  

Hy sê dit is ook belangrik dat kinders tydens daaglikse aktiwiteite soos interaksie op die speelgrond, deelname aan sport, kultuur en koorsang respek vir mekaar moet betoon.

Ouers woon ’n prysuitdelingsfunksie by. Foto: Facebook

Die skoolklok kondig die einde van die dag aan toe ek uitstap na my motor. Ek staan vir ’n paar oomblikke en kyk na die jong kinders wat plek-plek gereed maak om met hul sportaktiwiteite te begin. Sommiges stap aan na die skoolsaal, dalk vir ’n kooroefening, wie weet? Wat my egter bybly toe ek wegry, is die vaderfiguur wat rondbeweeg tussen sy kinders. Kort-kort staan hy stil en buk af om met een van hulle te gesels en ook saam met hulle te lag.

Ek neem die afdraai wat my wegneem uit ’n omgewing waar so baie mense deurentyd gestroop word van liefde, kos en ander aardse dinge. En ek dink aan die lewenslesse wat opgeskryf staan in die mure van die skool hier in Arendstraat, Bergmanshoogte. Ek dink ook aan die arend wat moed en geestelike inspirasie simboliseer. 

OFM Nuus/Elsabé de Jager

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.