On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Ouers betoog ná leerling se dood by Laerskool Sentraal

───   HEIDRÈ MALGAS 08:30 Thu, 28 Sep 2023

Ouers betoog ná leerling se dood by Laerskool Sentraal | News Article
Leerders het plakkate gemaak wat voor die skool aan verbygaande motoriste gewys is. Foto verskaf

“Die skool het ’n persoon aangestel vir Noordeindweg. Daar is tans egter geen spoedhubbels of padpatrolleerders in Raymond Mhlabastraat nie.”

’n Betoging is deur verskeie ouers georganiseer nadat ’n gr.3-leerling Haydon Niekerk twee weke gelede voor Laerskool Sentraal in Raymond-Mhlabastraat, Bloemfontein, raakgery is.

Volgens die voorsitter van Laerskool Sentraal se beheerliggaam, Graham Douw, het die leerder blykbaar iets laat val en is hy deur ’n motor raakgery wat ’n ander motor verbygesteek het.

Sommige ouers en inwoners van die gemeenskap het ook plakkate op die sypaadjie vertoon. Foto verskaf

Hy sê daar is ’n voetoorgang by die verkeerslig en leerders word aangemoedig om dit te gebruik. Die skool organiseer ook gereelde padveiligheidsessies en bewusmakingsinisiatiewe deur die skool en ander rolspelers, soos ondernemings.

Douw sê die skool het 'n persoon aangestel vir Noordeindweg. Daar is tans egter geen spoedhubbels of padpatrolleerders in Raymond Mhlabastraat nie.

“Daar was ook gereelde besprekings oor padveiligheid in registrasieklassessies en/of saalperiodes. Eksterne organisasies het reeds met leerders gepraat en gehelp met bewusmaking. Daar is plakkate oor padveiligheid beskikbaar,” sê Douw.


Hy verduidelik dat die skool nie self assessering gedoen het om vas te stel hoeveel kinders daar al aangerand is nie, maar veiligheidskwessies en gevaar is aan verskeie rolspelers gerapporteer. Versoeke vir bykomende spoedbeheermaatreëls, spoedwalle, gevaartekens, ensovoorts, is ongelukkig nog nie uitgevoer nie. Skole en/of individue mag nie self optree nie, aangesien dit skynbaar deur wetgewing gereguleer word.

Die gemeenskap wil motoriste bewus maak van voetgangers, veral skoolkinders. Foto verskaf

Hy sê die protesaksie wat gister plaasgevind het, is omdat die gemeenskap motoriste wat te vinnig en onverskillig ry, bewus wil maak van voetgangers, veral skoolkinders. Die leerders het plakkate gemaak en dit voor die skool vertoon en aan verbygaande motoriste gewys.

Sommige ouers en inwoners van die gemeenskap het ook plakkate op die sypaadjie vertoon.

Hy sê die skool sal weer versoek dat beter en gereelde spoedbeheer toegepas word en dat daar meer waarskuwings, strepe en spoedwalle aangebring word om sulke insidente te voorkom.

OFM Nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.