On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with OFM
Listen Live Streams

Central SA

Met hande op reis na selfsorg en bewustheid van psige

───   ELSABÉ DE JAGER 14:35 Wed, 04 Oct 2023

Met hande op reis na selfsorg en bewustheid van psige | News Article
’n Labirint simboliseer die mens se lewensreis. Foto: Pinterest

Isabelle Grobler sou as kunstenaar die ideale vennoot wees vir ’n aanbieding waarin liggaam en gedagtes moes saamwerk.

 “Om iewers deur jou lewe op ’n innerlike reis, met jou hande aan die stuur, te vertrek, is ’n noodsaaklikheid, nie ’n blote selfbederf nie.”

So beskryf Zarine Roodt, kommunikasiekenner en skrywer, die rede vir die reeks werksessies wat sy saam met die kunstenaar Isabelle Grobler in Bloemfontein aanbied.

In dié kursus  word deelnemers geleer hoe om hul hande as die belangrikste gereedskapstuk te gebruik tydens ’n reis wat uit omgee vir jouself en bewustheid van jouself bestaan.

Handewerk speel ’n belangrike rol op die reis na bewustheid van die psige. Foto verskaf

Interessante konsepte soos mandalasketse, labirintbewandeling, ontwerp van dankbaarheidsjoernale en die samestelling van droomvangers word gebruik om elke kursusganger in staat te stel om vir haarself ’n wêreld van diepte, konneksie en selfontdekking te ontsluit.


Roodt sê die belangrikheid van selfsorg van die psige, veral ná die Covid-19-pandemie wat so baie mense weerloos en swak gelaat het, kan nie genoeg beklemtoon word nie. Selfsorg sluit ’n wye verskeidenhied aktiwiteite, soos byvoorbeeld joga, ’n joernaal, asook kuns- en musiekterapie in. Verskillende mense baat by verskillende terapieë.

Onder die vaandel van selfsorg vir die psige het sy besluit om te kyk na die sogenaamde “Body Mind Connection”, wat die noodsaaklikheid van interaksie tussen liggaam en gedagtes uitwys. Sy het besef dat sy, wat meestal met haar gedagtes dink, dikwels nalaat om met haar lyf te voel en te ervaar. Grobler sou as kunstenaar die ideale vennoot wees vir ’n aanbieding waar liggaam en gedagtes moes saamwerk.

Die hantering van drome word vasgevang in ’n droomvanger. Foto verskaf

Die kursus strek oor vier sessies, waarvan die eerste een wat gefokus het op psigiese heelheid, verlede naweek met groot sukses aangebied is. Die volgende aktiwiteit behels die bewandeling van ’n labirint, wat die lewensreis van die mens simboliseer. In die derde sessie kry elke kursusganger die geleentheid om ’n droomvanger te maak en ook te gesels oor die hantering van drome. Laastens word dankbaarheid aangespreek, deur die samestelling van ’n dankbaarheidsjoernaal.

Al is die eerste werksessie reeds afgehandel, nooi Roodt alle belangstellendes uit om haar steeds te kontak vir inligting oor die volgende drie wat nog voorlê.

OFM Nuus/Elsabé de Jager

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.