Central SA
Mangaung-tussenverkiesing: OVK Vrystaat stel datum vas─── LUCKY NKUYANE 14:02 Thu, 05 Oct 2023

“Kiesers word daaraan herinner dat dit ’n kriminele oortreding is om te registreer en te stem in ’n wyk waarin hulle nie gewoonlik woonagtig is nie.”
Politieke partye in die Mangaung-metro gaan in die komende tussenverkiesing om die vakante wyk 47 meeding.
OFM Nuus het vroeër berig dat wyk 47 vakant geraak het enkele maande nadat die voormalige DA-raadslid Mokgadi Kganakga uit die party bedank het om by Rise Mzansi as die provinsiale koördineerder aan te sluit.
Mmathabo Rasengane, woordvoerder van die provinsiale Verkiesingskommissie (OVK), sê kiesersregistrasie sal hierdie naweek begin vir wyke wat op 29 Oktober in ’n munisipale tussenverkiesing betwis word.
Stemlokale sal Saterdag (7/10) en Sondag (8/10) oop wees, van 08:00 tot 17:00, om alle stemgeregtigde kiesers kans te gun om te registreer en vir bestaande kiesers om hul registrasiebesonderhede na te gaan en om adresbesonderhede te verskaf of by te werk waar nodig.
Rasengane sê wyk 47 het 8 645 geregistreerde kiesers. Daar word verwag dat die DA, ANC, EFF, Rise Mzansi en PA se kandidate sal meeding in die grootste en omstrede wyk.
Kiesersregistrasie sal hierdie naweek begin vir wyke wat op 29 Oktober 2023 in ’n munisipale tussenverkiesing betwis word.
Kiesers moet hul identiteitsdokument saamneem – óf ’n groen strepieskode-ID-boek, ’n slimkaart-ID, óf ’n geldige, tydelike ID-sertifikaat. Hulle sal ook hul huisadres by registrasie moet voltooi of voldoende besonderhede van hul woonplek moet verskaf. ’n Adresbewys word nie vereis nie. Kiesers kan ook op weeksdae gedurende kantoorure hul besonderhede by hul plaaslike OVK-kantoor nagaan en bywerk.
Kiesers word daaraan herinner dat dit ’n oortreding is om te registreer en te stem in ’n wyk waarin hulle nie gewoonlik woonagtig is nie.
“Ek het besef daar is geen politieke wil om Mangaung te verander nie en daar is geen administratiewe wil om Mangaung te verander nie," het Kganakga gesê oor die rede vir haar bedanking uit die DA.
"Met wat ek weet, het ek besef ek moes my afvra wat ek in daardie ruimte doen, en hoe ek my gemeenskap die beste kon dien. In die ruimte waarin ek bedrywig was, het ek gevoel dat ek nie my gemeenskap na die beste van my vermoë kon verteenwoordig nie, want die mense wat moet implementeer, wil nie implementeer nie.
"So ek het net besluit om aan te beweeg en my gemeenskap toe te laat om iemand nuuts te kry,” sê sy.
Munisipale tussenverkiesings sal op 29 Oktober plaasvind.
Mokgadi het in 2014 by die DA aangesluit, en is twee jaar later op die party se proporsionele raadsledelys opgeneem. In 2019 het sy in die tussenverkiesing meegeding en wyk 47 gewen, die grootste wyk in Mangaung.
’n Paar jaar later, in November 2021, tydens die plaaslike regeringsverkiesing, het die DA weer die oorwinning behaal en die wyk rakelings gewen nadat 2 000 mense vir Kganakga gestem het.