On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
Show Background
NEXT: 19:00 - 22:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Polisie slaan op nog ’n internetkafee in Bloemfontein toe

───   09:26 Fri, 06 Oct 2023

Polisie slaan op nog ’n internetkafee in Bloemfontein toe | News Article
Die polisie arresteer ’n buitelander wat klandestiene internetkafee besit tydens Operasie Shanela in Bloemfontein. Foto: SAPD

“Die polisie het die internetkafee deursoek en stapels vervalste permitte vir asielaansoeke gevind. Daar was ook aansoeke om visums te verleng, vervalste kwalifikasies van tersiêre instellings en afskrifte van Suid-Afrikaanse identiteitsdokumente.”

Die polisie het met Operasie Shanela nog ’n suksesvolle operasie uitgevoer om misdadige aktiwiteite in die Mangaung-metro hok te slaan.

Die Vrystaatse polisie het op ’n tweede internetkafee toegeslaan wat vervalste dokumente druk. Thabo Covane, Vrystaatse polisiewoordvoerder, sê die polisie was Donderdag (5/10) besig om inspeksies te doen toe hulle by die Rehobot Internet Café in Charlotte Maxekestraat, Bloemfontein, aankom.

Polisieparade voor die suksesvolle Operasie Shanela in Mangaung. Foto: SAPD

Die operasie in die sakekern is gelei deur die Mangaung-distrikskommissaris, Arthur Peter Adams, met 'n multi-dissiplinêre span van die polsie, die Departement van Binnelandse Sake, Departement van Kleinsakeontwikkeling, Toerisme en Omgewingsake, Mangaung Metro Wetstoepassing en Centlec.

Die polisie het ’n soektog in die Bloemfonteinse sakekern uitgevoer. Foto: SAPD

Hy sê die doel van die operasie was bloot "om wetteloosheid in die stad uit te roei". Die 47-jarige eienaar van die internetkafee is gevra om sy reisdokumente te wys. Die polisie het vasgestel dat die buitelandse nasionale permit vervals is.

Thabo Covane, Vrystaatse polisiewoordvoerder. Foto verskaf

“Die polisie het die internetkafee deursoek en stapels vervalste permitte vir asielaansoeke gevind. Daar was ook aansoeke om visums te verleng, vervalste kwalifikasies van tersiêre instellings en afskrifte van Suid-Afrikaanse identiteitsdokumente.”

Vals permitte wat tydens Operasie Shanela gevind is. Foto verskaf

Twee verdagtes van 38 en 47 jaar oud is in hegtenis geneem vir die bestuur van die onwettige rekenaarlaboratorium, die druk van vervalste dokumente en bedrog. Dit was nadat nog 'n 48-jarige buitelander in hegtenis geneem is vir die bestuur van 'n onwettige laboratorium vir die vervaardiging van vervalste dokumente.

Mangaung-distrikskommissaris, Arthur Peter Adams, het bewyse wat by die onwettige rekenaarlaboratorium gevind is, aan die provinsiale polisiekommissaris, Baile Motswenyane, oorhandig. Foto: SAPD

Covane sê beslag is gelê op rekenaarbokse, gesofistikeerde drukkers en ander bewyse wat deur die plaaslike misdaadrekordsentrum se personeel verwerk is. 

Die verdagtes sal binnekort in die landdroshof in Bloemfontein verskyn.

OFM Nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.