Central SA
Vermeende reeksverkragter (27) in Bloemfontein aangekeer─── 08:28 Sat, 07 Oct 2023
“Die slagoffers, tussen die ouderdomme van 16 en 25, is geteiken terwyl hulle huis toe gestap het nadat hulle by ’n plaaslike kroeg gekuier het.”
’n Vermeende reeksverkragter (27) is in Bloemfontein in hegtenis geneem en sal na verwagting Maandag (9/10) in die hof verskyn op ses aanklagte van verkragting.
Polisiewoordvoerder Peter Kareli sê die Eenheid vir Gesinsgeweld, Kindersbeskerming en Seksuele Oortredings, met die bystand van die polisie se Taktiese Reaksiespan, het op ’n wenk gereageer wat Donderdag (5/10) ontvang is. Hulle het na die woning in Fase 7 gegaan en die verdagte in ’n skuur gevind.

Die Eenheid vir Gesinsgeweld, Kindersbeskerming en Seksuele Oortredings, met die bystand van die polisie se Taktiese Reaksiespan, het op ’n wenk gereageer. Foto: Lucky Nkuyane
“Die 27-jarige verdagte, wat (Maandag) in die Bloemfonteinse Landdroshof aangekla sal word, word met DNS-bewyse verbind aan ses verkragtingsake, insluitend een wat selfs nog in Maart vanjaar plaasgevind het,” sê Kareli.
Die slagoffers – tussen die ouderdomme van 16 en 25 – is geteiken iterwyl hulle huis toe gestap het nadat hulle in ’n plaaslike kroeg gekuier het. Die verdagte het hulle na bewering met 'n stomp voorwerp oor die kop geslaan, hulle gewurg en hom daarna op hulle afgedwing.
“Die aanvalle het in die vroeë oggendure Maandae of Saterdae in die omgewing van Fases 3, 4 en 7 plaasgevind,” het Kareli bygevoeg.
Die polisie se ondersoek duur voort.
