Central SA
Sasolburg-vrou ‘vat dinge dag vir dag’ ná pa, verloofde verdrink─── KAREN VAN DER BERG 15:02 Tue, 10 Oct 2023
“My liefste pappa en die liefde van my lewe: Julle word so gemis deur almal.”
“My liefste pappa en die liefde van my lewe: Julle word so gemis deur almal. Ons is so lief vir julle. Ons hoop julle swem vry saam met al die visse in die see en speel in die branders namens ons. Julle sal altyd onthou word.”
So sê Jenney Griessel (26), wie se pa, Johann (56), en toe haar verloofde, Colin Schreuder (34), op 3 Oktober by die Umzumbe-strand aan die Natalse Suidkus verdrink het. Hulle is almal van Sasolburg.
Johann en Colin is albei deur ’n sleurstroom meegesleur.
Jenney het saam met haar ouers, Johann en Charissa, Colin, hulle seun, Ajay (4), en Colin se kinders uit ’n vorige verhouding, Grant (9) en Linica (8), vakansie gehou toe die tragedie gebeur het.

Colin Schreuder (34) die verloofde van Jenney Griessel. Foto: Colin Schreuder/ Facebook
Jenney sê haar pa het eers met al drie die kinders in die vlakwater geswem. Daarna het hy dieper gegaan, en sy het saam met hom gaan swem. Die stroom het hulle ’n paar keer ingetrek en hulle was reeds baie ver van die strand af. Daar was ook ’n sleurstroom en groot golwe. Schreuder het ingegaan om te help.
Hulle het altwee in die moeilikheid geraak en verdrink. Hulle is op die strand dood verklaar. Die see het Jenney uitgespoel.
Sy sê op die oomblik vat hulle dinge net dag vir dag. “Maar dit is nie maklik nie. Ons wens dinge kon anders uitgedraai het. Dit is nie hoe ons vakansie moes uitdraai nie.”

Colin Schreuder en Jenney Griessel tydens hulle vakansie. By hulle is Colin se kinders uit ’n vorige verhouding, Linica (8) en Grant (9), regs. En die paartjie se seun, Ajay (4), in die middel. Foto verskaf
Jenney sê haar pa het altyd sy geliefdes eerste gestel en sou sy hande vir die gemeenskap af baklei het. “Dit is waar sy passie was.” Sy sê hy was vol dinge en het almal altyd geterg net om ná die tyd ’n drukkie te kry.
“Ek sal altyd my pa se lag onthou en ook die manier hoe hy ons kon laat glimlag.”
Colin weer was ’n baie goeie pa vir sy drie kinders. “Hy het altyd aan hulle gedink voor hy enigiets gedoen het. Hy was soos ’n mannetjiesleeu en het altyd sy trop beskerm.”
Jenney vertel sy sal hom altyd onthou as die sterk man wat ’n oplossing vir alles gehad het. “Hy het altyd gehelp waar hy kon, en ek het geweet ek kan op hom staatmaak.”
Die reëlings vir hul gedenkdiens word vandeesweek gefinaliseer.
