Central SA
Potch Gimmies wéér as beste skool aangewys─── ZENANDE MPAME 11:37 Thu, 12 Oct 2023

“Dit is ’n uitstekende prestasie waarop ons baie trots is en dit is ’n bewys van uitnemendheid en die benutting van geleenthede.”
Potchefstroom Gimnasium is vir die vierde keer deur die Departement van Basiese Onderwys op die nasionale onderwystoekenningsgeleentheid as die beste kwintiel-4-skool in die land aangewys.
“By die skool streef ons na uitnemendheid en ons het seker gemaak ons doen ons bes in elke kategorie,” sê Willie van der Merwe, skoolhoof.
Van die kriteria om te kwalifiseer sluit in die algehele prestasie van die graad 12-leerders, die persentasiegemiddeld van leerders wat wiskunde, fisiese wetenskappe en rekeningkunde geneem het, asook die persentasie toelating tot ’n BA-graad, en die persentasie onderskeidings.
Potchefstroom Gimnasium is trots op dié puik prestasie. Foto verskaf
“Dit is ’n uitstekende prestasie waarop ons baie trots is en dit is ’n bewys van uitnemendheid en die benutting van geleenthede,” sê hy.
“Om erkenning te kry, is eintlik 'n beloning vir die harde werk wat ons by die skool doen.”
Hy sê die personeel loop die ekstra myl wat bydra tot die uitnemendheid van die skool. Dit is ’n gedrewe gemeenskap en die leerders het groot akademiese verwagtinge en doelwitte om na te streef. “Dit is ’n eer vir elkeen om deel van die Gimmie-familie te wees,” sê Van der Merwe.
Maar wat beteken skoolkwintiele?
Volgens die Nasionale Norme en Standaarde vir Skoolbefondsing, word openbare skole in vyf groepe, bekend as kwintiele, gekategoriseer, hoofsaaklik met die doel om hulpbronne vanaf die staat toe te wys.
Skole word in kwintiele verdeel, volgens die finansiële vermoë van die gemeenskap waarin die skool gevestig is. Kwintiel 1 tot 3 skole is skole in die armste gemeenskappe en ontvang aansienlik meer befondsing en hulpbronne vanaf die staat.
Openbare skole wat skoolgeld hef, word as kwintiel 4 of 5 gekategoriseer, het meer hulpbronne en bedien kinders van meer gegoede gesinne. Hierdie skole ontvang ’n aansienlik laer per capita toelaag van die staat en verwag hoofsaaklik van ouers om die finansiële las van onderwysvoorsiening en regulatoriese voldoening te dra.
Die volgende kriteria word gebruik om te bepaal hoe ryk of arm ’n bepaalde gemeenskap is:
- Die gemiddelde huishoudelike inkomste van die gemeenskap rondom die skool;
- Die werkloosheidskoers binne die gemeenskap;
- Vlakke van geletterdheid en opleiding binne die gemeenskap.
Die kwintiel waarin ’n bepaalde skool geplaas word, beïnvloed hoeveel geld in subsidies hulle jaarliks vanaf die provinsiale departemente van onderwys ontvang.
Kwintiel 1 tot 3-skole is almal skole wat nie skoolgeld hef nie en kry ’n jaarlikse toelaag van gemiddeld R1243 per leerder. Hierdie skole verteenwoordig 86% van alle openbare skole in die land. Landwyd is daar 627 kwintiel 4 en 301 kwintiel 5 skole.