Central SA
Gestremde man van Qwaqwa bou steeds huise─── 12:38 Fri, 13 Oct 2023
“Ek is gestremd, nie my brein nie.”
’n Gestremde pa met drie kinders glo dat hy tot sy dood messelwerk sal kan doen. Pule Ratselane (47) van Kudumane, Qwaqwa, is in sy regterbeen geskiet toe hy destyds as ’n veiligheidswag gewerk het. Dokters het twee jaar later besluit om sy been te amputeer.
Dit het hom egter nie gekeer om huise te bou nie en hy glo met een been kan hy hoër teen die mure uitklim. Mense in die omgewing glo in sy handewerk. Hy is in staat om van die fondasie tot die dak alles self te kan doen. Hy is veral bekend vir sy netjiese messelwerk.

Pule Ratselane glo nie gestremdheid moet jou drome kelder nie. Foto verskaf
“Papa Maletsatsi” soos hy liefdevol bekendstaan, het aan OFM Nuus gesê hy voel baie waardeloos wanneer mense negatiewe opmerkings oor hom maak. “Ek is gestremd, nie my brein nie.”
Hy sê met die karige bedrag wat hy maak, kon hy betaal vir sy kinders se skoolgeld. Daar is nog een kind in die hoërskool – die ander het reeds matriek geslaag.

Pule Ratselane se klante sê sy messelwerk is uitstekend. Foto verskaf
Hy moedig ander gestremde mense aan om op te hou om hulself in hul huise toe te sluit en te kyk wat die wêreld vir hulle inhou.
