On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

Jongman van Prieska tronk toe vir moord op pa se meisie

───   09:21 Sat, 14 Oct 2023

Jongman van Prieska tronk toe vir moord op pa se meisie | News Article
Corné Vermeulen is tot twaalf jaar tronkstraf gevonnis.

“Ek het geskiet en geskiet…”

Sewe jaar nadat Cornelius Frans (Corné) Vermeulen van Prieska as 17-jarige sy pa, Albertus, se meisie in ’n woedebui vermoor het, is hy in die hooggeregshof in Kimberley tot 12 jaar gevangenisstraf gevonnis. Vier jaar daarvan is vir vyf jaar opgeskort.

Die voorval het op omstreeks negeuur die aand van Saterdag 21 Mei 2016 gebeur. Vermeulen het Serifa Brown (27) eers gewurg en toe vier keer (luidens sommige mediaberigte ses keer, waarvan twee kopskote) met ’n .22-geweer geskiet. Sy is op die toneel dood. Hy is dieselfde dag in hegtenis geneem en is later borgtog toegestaan.

Corné Vermeulen was skaars 18 toe hy sy pa se houvrou, Sarifa Brown (27), doodgeskiet het in ’n woedebui.

Vermeulen het vroeër getuig hoe hy en drie werkers op sy pa se plaas, Jonkerwater, bedrywig was voordat hulle teen sononder terug na die opstal is. Sy pa was nie tuis nie. Vermeulen het op die dorp gewoon en daar skoolgegaan, maar dikwels naweke op die plaas deurgebring.

‘Hy het ’n kombers gaan haal om haar te begrawe’

Hy en Brown het stry gekry omdat sy nie kos gemaak het nie. Sy het geld na hom gegooi en ’n aanmerking oor sy ma gemaak. Hy het haar met sy arm van agter gewurg, en sy het hard kop eerste op die grond geval.

Omdat hy gedink het sy is dood, het hy ’n sak oor haar kop gesit sodat die bloed nie die vloer bevlek nie. Hy het ’n kombers gaan haal om haar te begrawe, maar sy het orent gekom en gevlug. Dis toe dat hy die .22-geweer gaan haal en op haar geskiet het.

“Ek het geskiet en geskiet,” sou hy later getuig. Sy het geval, waarna hy die loop teen haar kop gehou en weer geskiet het.

‘Ek het my seun versaak; ek voel vreeslik’

Sy ma, Hester Vermeulen, het ter strafversagting getuig dat sy pa hulle gereeld aangerand het. “Ek het my seun versaak; ek voel vreeslik,” het sy getuig. Sy is glo die plaas verbied toe haar seun agt jaar oud was. Sy het op die dorp gewoon en kon hom net sien wanneer sy pa in die dorp sake moes doen.

Regter Lawrence Lever het beslis hoewel Vermeulen se wanfunksionele kinderlewe as versagtende omstandighede in ag geneem kon word, hy geen berou ná Brown se dood getoon het nie. Hy het ook nie vóór die voorval aan posttraumatiese stres gely nie, soos wat die verdediging voorgehou het.

Streekskommissaris genl.maj Nomana Mtukushe het Vermeulen se vonnisoplegging verwelkom en die ondersoekbeampte en speurders geloof vir hul harde werk en toewyding wat tot die vonnis gelei het. “Geslagsgeweld en vrouemoord kan nie geduld word nie, en oortreders moet voor die gereg gebring word.”

OFM Nuus/Christine van der Westhuizen

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.