Central SA
Nigeriër in Kimberley aangekeer vir mensehandel─── 13:31 Wed, 18 Oct 2023
“Die vroue is in die hotelkamer aangehou en is deur die beskuldigde as sekswerkers gebruik.”
Adeyefa Adedamola Adetoye (38) van Nigerië het in die distrikshof in Kimberley verskyn nadat twee vroue in sy hotelkamer gekry is. Hulle is glo as sekswerkers gebruik.
Mojalefa Senokoatsane, NVG-woordvoerder, sê hy word aangekla van mensehandel, aanranding, verkragting, dwelmbesit en omdat hy onwettig in die land is.
Hy sê die 17-jarige meisie en 29-jarige vrou het aan die polisie vertel dat hulle van Johannesburg na KImberley gebring is. “Die vroue is in die hotelkamer aangehou en is deur die beskuldigde as sekswerkers ingespan. Die polisie het ook beslag gelê op dwelms in die hotelkamer wat aan hom behoort het.”
Adetoye is in hegtenis geneem nadat die polisie op ’n wenk gereageer het. Sy verblyfpermit het reeds in 2018 verval. Hy het met sy eerste hofverskyning gesê hy sal sy eie regsverteenwoordiger aanstel.
Die saak is tot 26 Oktober uitgestel sodat sy inligting bevestig kan word voordat hy om borgtog kan aansoek doen. Die polisieondersoek duur voort, en hy bly in aanhouding.
OFM Nuus
