Central SA
Trotse Tralie beste speller in gr. 8 in Suid-Afrika─── HEIDRÈ MALGAS 14:56 Thu, 09 Nov 2023
“Ek sou definitief nie al daardie woorde geken het as dit nie vir my onderwysers was nie.”
Anri van der Westhuizen van die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein het op Donderdag (19/10) in die WOW-spelfeeskompetisie eerste in haar ouderdomsgroep geëindig en is nou die beste gr. 8-speller in Suid-Afrika.
Van der Westhuizen sê dit is ’n groot voorreg om op so ’n hoë vlak deel te neem, en dit is die eerste keer wat sy aan só groot kompetisie deelgeneem het.
In die kompetisie kry elke deelnemer ’n nommer. Die beoordelaars gaan dan op die ry af. Elke deelnemer kry 30 sekondes waarin hy/sy ’n woord moet spel. As jy verkeerd spel, is jy uit die kompetisie – dit hou aan tot net die wenner oorbly.
“Ek sou definitief nie al daardie woorde geken het as dit nie vir my onderwysers was nie. So tussendeur ‘n gelag en gesels het ek en my vriendin saam met ons onderwysers die lys deurgewerk,” sê sy.
Die grootste uitdaging vir haar was om kalm te bly. Toe haar vriendin onverwags uitval, het dit baie konsentrasie en deursettingsvermoë geverg om nie moed op te gee nie en kop te hou.
“Om vinnig te dink is van uiterste belang. Ek het aan die begin van die kompetisie agtergekom dat ek ‘n woord verkeerd gespel het. Net toe ek wou afsluit en met net ’n paar sekondes oor, moes ek die woord gou oorspel. As ek nie vinnig herstel het nie, kon dit my die kompetisie gekos het,” sê sy.
Petro Steenkamp, ’n onderwyser wat haar help oefen het vir die kompetisie, sê Van der Westhuizen se optrede was heeltyd gedissiplineerd, berekend en gefokus.
“Sy het kalm en met selfvertroue elke woord wat aan haar gevra is, gespel. Sy was so goed voorbereid en gedissiplineerd dat haar sukses nie as ’n verrassing gekom het nie,” sê Steenkamp.
Hulle is drie onderwyseresse wat smiddae die spelleerders help oefen en voorberei vir hierdie kompetisies. Die leerders is met elke oefensessie woorde gevra soos wat hulle in die kompetisie sou kry.
Steenkamp se wenke aan die spellers is, wees gedissiplineerd en leer van die begin af jou woorde sodra jy jou lyste ontvang en soek die betekenisse op van woorde wat aan jou onbekend is. Die laaste woord wat aan haar gevra is in die nasionale kompetisie was “achilleshiel”.
Anri het ‘n kontantprys van R1 000 gewen, ‘n trofee, ’n boek, Hoekom nie? Meer as 1 111 vrae en antwoorde vir nuuskierige agies, asook ’n slimfoon.
OFM Nuus/Heidré Malgas Corné/Daphn/Morné
